NewsNews

Wees wakker, inbrekers word slimmer

Verlede Woensdagaand (5 Julie) het ’n inbraak by ’n groot besigheid in Breëstraat plaasgevind. Hierdie inbraak was nie ’n doodgewone huisbraak nie, aangesien dié diewe nie ’n enkele alarm laat afgaan het nie. Die betrokke besigheid het twee ogies in die spesifieke area waar die goedere gesteel is, maar nie een van die ogies het …

Verlede Woensdagaand (5 Julie) het ’n inbraak by ’n groot besigheid in Breëstraat plaasgevind. Hierdie inbraak was nie ’n doodgewone huisbraak nie, aangesien dié diewe nie ’n enkele alarm laat afgaan het nie.
Die betrokke besigheid het twee ogies in die spesifieke area waar die goedere gesteel is, maar nie een van die ogies het die diewe opgetel nie.
Coenraad de Jager van Parys Sekuriteit sê dat inbrake in Parys oor die afgelope jaar geweldig toegeneem het en dat die manier waarop daar ingebreek word, ook baie verander het in vergelyking met vorige jare.
“Die inbrekers word slimmer, en hulle kry maniere om verby die alarmstelsels te kom, sonder om opgetel te word,” sê hy.
De Jager sê dat hulle bewus is van ’n paar maniere waarop inbrekers alarmstelsels kan omseil. Ouer alarmstelsels staan ’n groter kans om uitgekanselleer te word as die nuwer, meer moderne modelle.
Die posisie van die alarmpaneel is belangrik om te verseker dat inbrekers nie die alarmstelsel kan omseil nie.
“Dit is belangrik om seker te maak dat jou hoof alarmpaneel goed opgepas is deur jou alarmstelsel en dat niemand daarby kan uitkom nie,” sê hy.
Nog ’n manier waarop inbrekers deesdae alarmstelsels omseil, is deur die seine te blok. Hierdie is ’n nuwe manier, wat veral in Johannesburg nou gereeld gebeur, maar ook nou in ander dorpe en stede begin toeneem.
“Hulle gebruik ’n jammer, wat die sein doodmaak in die area, of ’n sein uitstuur wat dieselfde is as die beheerkamer se frekwensie, en dan kan die alarm se seine nie by ons uitkom nie,” sê hy.
Hierdie kan ook voorkom word deur die alarmstelsel in te stel om elke 15 minute seine na die beheerkamer te stuur, eerder as net elke 24 uur, soos in die ouer alarmstelsels.
Indien die stelsel geblok word, en ’n sein word nie gestuur nie, sal die beheerkamer dadelik daarvan weet.
Hy beveel aan dat elke besigheid se alarmstelsel twee verskillende maniere het om na die kontrolekamer seine te stuur.
Daar is drie verskillende maniere waarop ’n alarmstelsel na die kontrolekamer verbind kan word naamlik RF, GSM, en IP. RF is deur radioseine, GSM is deur selfoonseine en IP is deur die internetlyn.
De Jager sê dat ’n alarmstelsel elke drie tot vyf jaar opgegradeer moet word om te voorkom dat dit verouder, en om die kanse te verlaag dat inbrekers ’n metode sal vind om verby die alarms te kom.
Hy stel voor dat huis- en besigheidseienaars ook hul sekuriteitsmaatskappye skakel om inspeksie op hul alarmstelsels uit te voer.
“Soos wat dit ons besigheid is om alarms te installeer, op te gradeer en te onderhou, is dit daardie sindikate wat inbreek se besigheid om die nuutste en die beste tegnologie te leer ken en vas te stel hoe hulle dit kan omseil,” sê hy.

Related Articles

Back to top button