NewsNews

Sulke pasiënte kan ‘n sekuriteitsgevaar wees

Psigiatriese behandeling word steeds afgekeep of is totaal ontoereikend by talle staatsinstansies.   Retha Fitchat Suid-Afrika se bevolking gaan gebuk onder van die wêreld se hoogste statistiek met betrekking tot geestesversteurings – hetsy weens post-traumatiese stres as gevolg van die hoë voorkoms van misdaad in die land, kindermishandeling, alhohol- en dwelmmisbruik of aangebore afwykings. Tot …

 

Retha Fitchat
Suid-Afrika se bevolking gaan gebuk onder van die wêreld se hoogste statistiek met betrekking tot geestesversteurings – hetsy weens post-traumatiese stres as gevolg van die hoë voorkoms van misdaad in die land, kindermishandeling, alhohol- en dwelmmisbruik of aangebore afwykings.

Tot dusver was dit die koste-doeltreffendste om mense wat verstandelik of geestelik onstabiel is, te isoleer by instansies wat spesiaal vir hulle in die lewe geroep is, eerder as om duur bewese genesende terapieë toe te pas. Die les wat ons land geleer het uit die skandalige Esidimeni-debakel toe sowat 100 pasiënte weens swak omstandighede en onvoldoende sorg gesterf het, het egter die groot tekortkominge op dié gebied uitgewys. Die Esidimeni-les sou alles verander. Of so het ons gehoop. Die les het blykbaar nog nie diep genoeg ingesink nie. Psigiatriese behandeling word steeds afgekeep of is totaal ontoereikend by talle staatsinstansies.

In die Vaaldriehoek, soos vermoedelik ook elders in die land, is daar beslis ruimte vir aansienlike verbetering wat die versorging van sulke pasiënte betref.

Jack Bloom, ‘n DA-lid van die Gautengse Provinsiale Wetgewer betrokke by gesondheidsake, het byvoorbeeld onlangs in ‘n ondersoek bevind dat die Vereeniging/Kopanong-hospitaal slegs een manlike psigiatriese saal het wat net 30 pasiënte op ‘n keer kan akkommodeer terwyl 243 pasiënte met soortgelyke behoeftes, in ander algemene sale behandel moet word omdat daar eenvoudig nie genoeg plek vir almal is nie.

Daar moet met Bloom saamgestem word dat dié situasie glad nie bevorderlik vir sekuriteit en die gewenste behandelingsvloei kan wees nie.

Dit is ook bekend dat minstens een personeellid van die hospitaal reeds deur ‘n geestesversteurde pasiënt aangeval is en ‘n slegte wond bokant die oog opgedoen het. In nog ‘n voorval is ‘n verspleegster deur so ‘n pasiënt met ‘n sker aangeval.

Buiten dat sulke pasiënte volgens hul grondwetlike reg op beter behandeling behoort te kan reken, is dit ook onaanvaarbaar dat hospitaalpersoneel, ander pasiënte en die besoekende publiek aan sulke gevare blootgestel word.

Volgens Gwen Ramokgopa, lid van die uitvoerende-komitee vir Gesondheid van Gauteng, het darem in antwoord op Bloom se beskuldigings gesê dat die aanstelling van meer personeel vir die psigiatriese saal ondersoek sal word en dat ‘n bykomende manlike psigiatriese saal voltooi sal word. ‘n Gespesialiseerde saal vir vroulike psigiatriese pasiënte sal ook opgeknap word.

Gesien in die lig daarvan dat 779 pasiënte in die jaar vanaf Maart 2016 tot Maart 2017 behandeling benodig het, kan dié uitbreidings nie gou genoeg gebeur nie. Vaalweekblad hoop van harte dat die saak werklik die dringende aandag sal kry wat me. Ramokgopa belowe het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button