NewsNews

Geliefde sakeman sterf

’n Geliefde en bekende sakeman van Parys, mnr. Burger Hirst, is op Saterdag 1 Julie na ’n lang siekbed oorlede.

’n Geliefde en bekende sakeman van Parys, mnr. Burger Hirst, is op Saterdag 1 Julie na ’n lang siekbed oorlede.
Burger en sy vrou Magda is by baie Parysenaars bekend as die vriendelike gesigte wat almal ingewag het by Olympia Slaghuis, ’n slaghuis wat reeds vir baie jare heerlike vleis in Parys verkoop.
Burger het op 28 Mei sy 70ste verjaarsdag gevier, maar was vir die afgelope 13 maande baie siek. In sy laaste dae het Magda na hom omgesien.
“Ek het hom belowe ek sal hom nie in ’n ouetehuis sit nie, en ek het tot die einde toe nog self vir hom gesorg,” sê sy. Hy is dood aan hart-, long- en nierversaking.
Burger en Magda was 41 jaar getroud. “Dit was ’n leeftyd. Nou stap ek elke aand in ’n leë huis is en dit is koud. Daar is niemand om mee te gesels nie, behalwe my hond,” sê sy hartseer.
Voor hy in die slaghuisbedryf gewerk het, was Burger vir 20 jaar ’n verkeersbeampte in Parys. Hoewel hy oorspronklik van Bloemfontein afkomstig is, het hy die grootste deel van sy lewe in Parys gewoon, en is hy deur baie mense as ’n saggeaarde en vrygewige man geken. Magda bedank graag vir Debbie en haar personeel van uCare ambulansdienste wat tydig en ontydig die Hirst huis moes besoek. Sy bedank hulle veral vir hul onbaatsugtige optrede van Saterdag.Sy bedank ook graag André Begrafnisondernemings vir hul professionele diens wat aan haar gelewer is, sowel as vir pastoor Rinus van Sandwyk dat hy tot die laaste toe by hulle gestaan het.
“Dankie veral aan die Hemelse Vader dat Hy my man soveel jare vir my gespaar het,” sê sy.
Daar sal geen diens plaasvind nie, slegs die naaste familie sal genooi word om daar te wees wanneer Burger se as terugkeer na sy dogter se graf.
Burger laat sy vrou Magda, hul seun Norman Hirst, skoondogter Renske Hirst en twee kleinkinders, Judé en Reno Hirts agter.

Related Articles

Back to top button