NewsNews

Lang emmerskoplysie en heelwat om te doen

Die algemene gesegde dat ouderdom nie vir “sissies” is nie, is net gedeeltelik waar. Ouderdom is net ’n relatiewe begrip. Jy kan op die stoep sit en oudword, of jy kan doen wat Elize Botha (73) doen. Na sy die rolprent “The Bucket list” gesien het, het sy vir haarself ’n emmerskoplysie opgestel. Voor sy …

Die algemene gesegde dat ouderdom nie vir “sissies” is nie, is net gedeeltelik waar. Ouderdom is net ’n relatiewe begrip. Jy kan op die stoep sit en oudword, of jy kan doen wat Elize Botha (73) doen.
Na sy die rolprent “The Bucket list” gesien het, het sy vir haarself ’n emmerskoplysie opgestel. Voor sy regtig oud word, wil sy nog ’n  hele paar dinge doen, en sommige kan sy nou al afmerk.
Sy vertel: “ Ek het ‘n passievolle liefde vir perde, maar kon nog nooit perdry nie, daarom het ek besluit om op 67-jarige ouderdom by ’n  ryskool aan te sluit en te leer perdry. Sommige mense het gevra: ”Op jóú ouderdom?”maar as mens iets regtig graag wil doen, is ouderdom nie ’n  kwessie nie.
Per geleentheid in Pretoria het die doodmak ou perd vir die joggie se rooi pet wat afgewaai het geskrik, en ek is met ’n  spoed grond toe. Albei my polse was af, en ’n  paar skouerspiere geskeur”.
Gelukkig het Elize dogters by wie sy kon aansterk en vir ses weke was sy honderd persent van hulle hulp afhanklik. Sy kon een regmerkie afmerk, sy het geleer perdry. ’n  Jaar of wat daarna gly sy op nat trappe en breek ‘n enkel. Selfs dit het nie haar geesdrif gedemp om haar emmerskoplysie te voltooi nie. Daar was nog uitdagings en een het sy so pas afgehandel.
Elize wou nog altyd haar hande en voete wat werklik mooi slank is, vir ’n advertensie gebruik. Sy stuur toe ‘n foto van haar hande en voete na ‘n Advertensiehuis in Johannesburg en hulle nooi haar vir ‘n onderhoud. Toe hulle haar sien, wou hulle meer as net haar hande en voete gebruik, hulle wou haar vir ‘n ander advertensie oorweeg. Sy het aan 4 onsuksesvolle oudisies deelgeneem en gedink sy sou nooit werklik ‘n rol kry nie.
In Januarie vanjaar kry sy onverwags ‘n sms boodskap met ‘n uitnodiging om vir ‘n oudisie te kom. Sy was een van 8 vroue wat vir dieselfde advertensie oorweeg is. En sy was die wenner.
Ons het vir Elize op televisie gesien in die advertensie van KykNet se Dis tyd….., toe KykNet se nuwe embleem vrygestel is.
Dis hier waar haar emmerskoplysie weer sterk na vore gekom het. Elize verduidelik: ” Die klem moet geensins op my val nie, maar veel eerder op mense van my ouderdom en dat mens se entoesiasme nooit moet kwyn nie.”
Elize vertel hoe die reëntonele vir die advertensie verfilm is. Daar was baie hoë staanders met sproeikoppe op en die man wat teenoor haar gespeel het, was naderhand sopnat van al die oor-en-oor oefen om dit reg te doen.
’n Onskuldige soentoneel is ook hierby ingewerk. Daar was ook twee skaaphonde by die toneel betrokke, en daarvoor moes hulle in die huis inhardloop en dit was nogal moeilik om hulle sover te kry. ‘n Maklike oplossing was dat die honde-eienaar binne in die huis moes staan en die honde roep, en so het daardie toneeltjie ook vlot verloop. Al verskyn ’n advertensie net  ’n  paar minute op televisie is daar ure se werk aan verbonde. Sy het so pas weer ‘n oudisie gedoen vir nog ‘n advertensie. Hou maar die televisie dop vir nog ‘n verskyning van hierdie besondere vrou.
Die vergoeding wat sy vir die advertensie ontvang het, is vir haar baie welkom. Sy hou baie daarvan om te toer en het al ‘n hele paar Afrika-lande besoek. Sy was al in Lesotho, Swaziland, Botswana, Zimbabwe Namibië en Mosambiek en hierdie neseiertjie maak dit vir haar moontlik om nog ‘n land te besoek.
Sy het ‘n paar jaar gelede ‘n bootreis saam met ‘n vriendin meegemaak, en dis gebruiklik om een aand fantasiekostuums aan te trek vir ‘n parade. Elize het vooraf in Potchefstroom nonne-uitrustings gehuur en dit saamgeneem op die boot. Die twee Parys-nonne was ‘n sensasie en sommige het hulle as “Suster” aangespreek en werklik gedink dat hulle nonne is. Hulle het gou die aftog geblaas toe die vrae te persoonlik geraak het.
Elize het nog ‘n paar uitdagings wat wag en wat sy vir seker wil afmerk. Sy sê dat elke mens ‘n keuse het, en een van haar kenmerke wat hierdie sienswyse versterk, is die feit dat sy vir die afgelope 20 jaar daagliks 2 onpaar oorkrabbers dra. Sy vertel dat sy baie getreur het na haar man se dood, en toe besluit het dat sy ‘n keuse het- hou aan treur of gaan aan met die lewe – en die verskillende oorkrabbers herinner haar daagliks aan die feit dat sy ‘n keuse het.
Om saam met adv. Thuli Madonsela om ‘n tafel te sit en tee drink is nog een van haar begeertes. Sy glo hulle twee sal dalk ‘n paar landskwessies kan oplos.
“Mens word nooit te oud om te droom nie, leef jou drome uit, maak jou wêreld groter. My leuse is: Carpe Diem (gryp die dag). Doen alles wat jy moontlik kan en wil, voor die tyd om is” is Elize se raad.

Related Articles

Back to top button