NewsNews

Inkbessie – ’n groot probleem vir boere

Oorlog teen Verklaarde Onkruid en Indringerplante in die Koepel ’n  Elektroniese opname om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in die Vredefort Koepel, word tans gedoen onder leiding van Piet Theron, afgetrede beampte van die Nasionale Departement van Landbou (DAFF). Theron het kundiges geraadpleeg om ’n  webwerf op te stel wat gebruik …

Oorlog teen Verklaarde Onkruid en Indringerplante in die Koepel

’n  Elektroniese opname om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in die Vredefort Koepel, word tans gedoen onder leiding van Piet Theron, afgetrede beampte van die Nasionale Departement van Landbou (DAFF). Theron het kundiges geraadpleeg om ’n  webwerf op te stel wat gebruik kan word om ’n  opname van die oorwegende spesies wat voorkom, te maak.
Die opname sluit 30 September en is hoofsaaklik bedoel vir die Koepel, wat die buffergebied insluit, hoewel grondgebruikers direk aangrensend aan die buffergebied, ook kan deelneem.  Die webwerf staan bekend as www.otop.co.za (Oorlog Teen Onkruid Projek). Twaalf spesies van verklaarde Onkruid en Indringerplante (OIP) is in die elektroniese opnamevorm ingesluit.
Een hiervan is die Inkbessie/Ink Berry (Cestrum laevigatum) wat sekerlik beskou kan word as een van die grootste probleme vir die boeregemeenskap. Daarom is dit uiters noodsaaklik dat alle boere dit kan identifiseer.
Ten spyte van die feit dat boere selfs in hierdie tyd nog beeste verloor as gevolg van Inkbessie wat deur beeste gevreet word wanneer groengras begin skaars raak, blyk dit nie dat alle boere daarvan bewus is nie.
Dit is ’n struikagtige plant met blare wat lyk soos die lote van perskebome. Die blare het ’n  baie slegte reuk. Dit maak groepies van klein kelkagtige geel blommetjies en pers bessies – vandaar die naam Inkbessie. Dit kom reeds wydverspreid in die Koepel, maar ook buite die Koepel, veral langs die Vaalrivier  voor en moet ernstige aandag geniet.
Dit is ook so dat ’n  groot hoeveelheid Inkbessie in dorpsgebiede voorkom. Die voorkoms van die uiters ongewenste onkruid in Parys en Potchefstroom se dorpsgebiede is ’n groot bron van kommer, veral omdat dit klaarblyk nie deur die twee munisipaliteite beheer word nie.
Gevolglik word ‘n beroep ook op dorpsinwoners gedoen om die plante te kan uitken en dit dringend uit te roei waar dit in dorpstuine voorkom.
Sover bekend is biologiese agente nog nie beskikbaar om die plant suksesvol te onderdruk of te beheer nie. Meer inligting kan verky word by [https://www.invasives.org.za/legislation/item/457-inkberry-cestrum-laevigatum] Pom-pom bossie (Campuloclinium macrocephalum)
Pom-pom bossie is ’n  meerjarige plant, hoewel dit algeheel doodryp en dus nie maklik in die winter waargeneem kan word nie. Einde November tot Maart is die aktiewe groeitydperk wanneer blomme dan waargeneem kan word.
Die blomme is helder pienk en rond en moenie verwar word moet Verbena met pers blomme wat in klein pakkies soos vingers gegroepeer is nie. (Sien foto).
Die naam is afgelei van Pom Pom meisies wat met die kenmerkende ronde tossels by byeenkomste dans. Dit is verseker die mees aggressiewe onkruid in die land, wat ‘n ernstige bedreiging vir die grasveld in die Hoëveld inhou. Indien enkele kleiner besmettings dus nie daadwerklik beheer word nie, hou dit ernstige nadelige gevolge vir veeboere in.
Gelukkig blyk dit dat dit nog nie in die Koepel voorkom nie. Aangesien dit reeds in die buffergebied van die Koepel voorkom, mag dit dalk wel in die Koepel self ook voorkom.
Daarom is dit uiters belangrik dat alle grondgebruikers die plant moet kan identifiseer en dit onmiddellik uitroei waar dit voorkom. Afgesien van die nadelige invloed op grasveld – die hoofbron van voeding vir veeboere, kan die verspreiding uiters nadelig vir biodiversiteit van die Koepel wees.
Alhoewel biologiese agente wel beskikbaar is, is dit nog nie naastenby doeltreffend om die plante te onderdruk of te beheer nie. Verder moet in gedagte gehou word, dat die gebruik van biologiese beheer slegs aanbeveel word vir medium tot swaar besmettings. Dit is dus nie ‘n opsie waar enkele plante of ligte besmettings voorkom nie [https://www.invasives.org.za/component/k2/item/203-pom-pom-weed-campuloclinium-macrocephalum]

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button