NewsNews

Slaghuise loop onder swendelaars deur

Nege slaghuise, waaronder twee in Potchefstroom, het onlangs onder swendelaars deurgeloop. Nege slaghuise, waaronder twee in Potchefstroom, het onlangs onder swendelaars deurgeloop. Volgens Anton Mostert, eienaar van Corner Butchery in Bailliepark, bel ‘n man van Kaia Ingwe Lodge en bestel dan groot hoeveelhede vleis. In Mostert se geval was dit 30 kg primarib (chuck) en …

Nege slaghuise, waaronder twee in Potchefstroom, het onlangs onder swendelaars deurgeloop.
Volgens Anton Mostert, eienaar van Corner Butchery in Bailliepark, bel ‘n man van Kaia Ingwe Lodge en bestel dan groot hoeveelhede vleis.
In Mostert se geval was dit 30 kg primarib (chuck) en 30 kg bees kookvleis wat die man, wat homself as Ruhan Breytenbach voordoen, telefonies bestel. Hy vra dan vir die eienaar of hy ‘n elektroniese oorbetaling kan doen.
“Hy sê die vrou wat vir hom werk is in die dorp, maar sy het nie geld by haar nie,” vertel Mostert.
Kort nadat die eienaar instem, word daar ‘n bewys van betaling aan die eienaar gestuur. “Die bewys van betaling lyk presies soos enige een wat jy van ’n bank af sou kry. Die vrou kom haal die vleis laat in die middag. Ek glo hulle beplan dit so dat al die banke toe is, sodat ‘n mens nêrens kan navraag doen daaroor nie,” vertel hy.
Mostert het eers toe hy die bewys van nader bekyk besef dat daar klein foutjies op die dokument is. Hy het agtergekom dat sy rekeningnommer verkeerd op die bewys is en dat in die verwysing, Nedbank verkeerd gespel is.
“Ek het hulle dadelik gebel, maar daar was nie antwoord nie,” vertel hy. Verskeie oproepe later, asook opvolg e-posse, het niks opgelewer nie. Daarna het hy die voorval op die Hello Pietie Facebookblad geplaas. Dit het groot reaksie van slaghuise in ander dorpe uitgelok. Eienaars van slaghuise in Rustenburg, Witbank, Klerksdorp en Derby wat met dieselfde slenter gevang is, het hom gekontak. Boeremark in Potchefstroom het ook deurgeloop.
“Hulle moes van Boeremark af na ons toe gekom het, omdat my mense gesien het dat die vrou se voertuig vol vleis was toe ons die vleis inlaai. Volgens hom het hulle ongeveer R5 000 se vleis by al die slaghuise op die manier gebuit.
Die vrou wat die vleis gaan haal, is Dinsdag 6 Junie in Klerksdorp in hegtenis geneem. Haar regte naam is glo Erika Steyn. Sy word van bedrog aangekla. Die saak is tot 20 Junie uitgestel vir ‘n formele borgaansoek.
In totaal is daar na bewering twee slaghuise in Potchefstroom, drie in Klerksdorp, twee in Witbank, een in Rustenburg en een in Derby gebuit.
“Ek kan nou niemand weer vertrou wat ‘n elektroniese oorbetaling doen nie. Dit is eintlik die prinsiep van die misdaad meer as die geld, dit kon net sowel R100 000 gewees het. Mens weet ook nou nie hoe lank hierdie bose kringloop al aangaan nie,” vertel hy.
Die Herald het probeer navraag doen by die e-posadres van waar die bewys van betaling gestuur is, maar dié adres blyk of dit intussen verwyder is. ‘n Vinnige “Google” soektog kon ook geen bewys van Kaia Ingwe Lodge se bestaan kry nie.

Related Articles

Back to top button