NewsNews

Behoeftes troef herwinning

Hoewel aardbewoners al jare gemaan word om herwinning die groen lig te gee, is dit steeds nie vir die NW405 munisipaliteit moontlik om herwinningsprogramme by hul basiese dienslewering in te sluit nie. Die grootste struikelblokke op dié munisipaliteit se herwinningspad is die gebrek aan personeel, toerusting en geld. Volgens Willie Maphosa, woordvoerder van dié munisipaliteit,… …

Deswalner Recycling CC, herwinningsaanleg in Potchefstroom

Deswalner Recycling CC, herwinningsaanleg in Potchefstroom.

Hoewel aardbewoners al jare gemaan word om herwinning die groen lig te gee, is dit steeds nie vir die NW405 munisipaliteit moontlik om herwinningsprogramme by hul basiese dienslewering in te sluit nie.

Die grootste struikelblokke op dié munisipaliteit se herwinningspad is die gebrek aan personeel, toerusting en geld.
Volgens Willie Maphosa, woordvoerder van dié munisipaliteit, word die munisipaliteit al hoe groter en daar is noodsaaklike dienste wat dringende aandag verg.
Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in die NW405-raad, het dit beaam.

“Ons grootste fokus is om in mense se behoeftes te voorsien wat nie tot die noodsaaklike dienste soos sanitasie toegang het nie. Oorhoofse behoeftes word eerste gestel – as jy nie genoeg geld vir noodverligting het nie, is daar ook nie genoeg geld vir herwinning nie.”
Volgens Maphosa is rommelverwydering by huise, die instandhouding van publieke areas en die bekamping van onwettige rommelstorting onder die basiese dienste waarop die munisipaliteit nou konsentreer.

“Ons het gereelde skoonmaakveldtogte waarby die stadsraad en kontrakteurs betrokke is om gewilde areas by alle uitbreidings, insluitend Promosa, Mohadin en Ikageng, skoon te maak,” het Maphosa gesê.

Moolman het gesê herwinning in Suid-Afrika kan nie volhoubaar wees voor armoede en werkloosheid aangespreek word nie. Hy het verduidelik dat dit in luukser areas soos Tuscany Ridge makliker sou wees om herwinning te implementeer, omdat meer ontwikkelde areas nie soveel geld vir instandhouding soos minder ontwikkelde areas verg nie.

Die munisipaliteit stel elke jaar R120 000 per wyk beskikbaar vir dienste aan inwoners. Al verskil die grootte en populasie per wyk, bly die bedrag konstant.
Wyk 9 van die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit, ’n gedeelte van Mohadin, het byvoorbeeld volgens Wazimap se sensusopname in 2011 ’n bevolkingsyfer van 7 592 gehad. Toe het 79% van die inwoners elektrisiteit gehad, 19,2% geen toegang tot enige toilette nie en 55,1% dienste ontvang wat rommel verwyder.
2011 het daar in wyk 14 in Ikageng 4 468 mense gewoon. Toe het 99,3% elektrisiteit gehad, 3% geen toegang tot enige toilette nie en 99,1% dienste ontvang wat rommel verwyder. Albei wyke moes toe ook met dieselfde begroting die wa deur die drif trek.

Herwinning is duur. Moolman het gesê om herwinningsdienste te implementeer moet daar onder meer personeel wees om die herwinbare materiaal apart van gewone rommel op te laai, ’n fasiliteit vir sortering en chemiese prosesse, asook die nodige masjinerie. Tlokwe-Ventersdorp het dit nie.

Potchefstroom se inwoners is dus genoop om van vier herwinningsmaatskappye in die privaatsektor gebruik te maak. Volgens Dewald van Breda, voorsitter van die Potchefstroom-Tlokwe-sakekamer en eienaar van die herwinningsmaatskappy Potch Plastics, is al die aanlegte in Potchefstroom “redelik besig.”

Maphosa het gesê die munisipaliteit probeer om minstens 30% herwinbare materiaal uit die rommelsiklus te ontgin om sodoende meer spasie op die munisipale stortingsterrein te skep. Informele ontginning van herwinbare materiaal vind tussen die verwydering van rommel by huise en (ook by) die opvullingsterrein plaas. Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit se syfers wys daar is verlede jaar 2 423,92 ton herwinbare materiaal uit die stortingsterrein in Potchefstroom ontgin. Teen einde Maart vanjaar het dié syfer op 304,44 ton gestaan.

’n Gedeeltelik-elektroniese fasiliteit by die stortingsterrein word beplan en hulle wil ook die bestaande tuinafvaltoevoerstasie uitbrei, het Maphosa gesê.

Related Articles

Back to top button