NewsNews

Fokus op brande, veiligheid en die pad vorentoe vir Koepel se grondeienaars

Brandgevaar is gedurende die wintermaande ’n ernstige bron van kommer, veral vir grondeienaars in die Vredefort Koepel waar die rante groot uitdagings bied vir brandbestryding in die gebied. Met die oog hierop sal Malcolm Proctor, adjunkdirekteur van die Vrystaatse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Saterdag met grondeienaars van die Vredefort Koepel kom gesels oor …

Brandgevaar is gedurende die wintermaande ’n ernstige bron van kommer, veral vir grondeienaars in die Vredefort Koepel waar die rante groot uitdagings bied vir brandbestryding in die gebied.
Met die oog hierop sal Malcolm Proctor, adjunkdirekteur van die Vrystaatse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Saterdag met grondeienaars van die Vredefort Koepel kom gesels oor brandpaaie en die tegniese aspekte daarvan, ook waar dit kom by die vrae van wildsplaaseienaars.
Die Vrystaat Grondeienaars Vereniging (Koepel) hou hierdie Saterdag, 10 Junie sy algemene vergadering om 10:00 by Kommandonek vir die kies van ’n nuwe bestuur en om te gesels oor die pad vorentoe.
Ander onderwerpe onder bespreking is die veiligheid van die Koepel waar dit by misdaad kom, en sal meer inligting gegee word oor die aanbring van kameras by die toegangsroetes na die Koepel, spesifiek aan Vrystaat-kant wat reeds hierdie week vanaf die Skandinawië-kant gesien sal word.
Die ongelooflike gasvryheid van inwoners van die Vredefort Koepel lok reeds toeriste van heinde en ver om die skoonheid en natuur van hierdie gebied te geniet.
Deur die inisiatiewe van die inwoners en grondeienaars is die Koepel al in 2005 deur UNESCO gelys as Wêrelderfenisgebied. Die regering se plig was om die gebied in terme van wetgewing te proklameer tot wêrelderfenisgebied.
Gesaghebbende akademici het reeds met die aansoek by UNESCO die gebied beskryf as “in prestine condition” en hiervoor kan grondeienaars beslis gekomplimenteer word.
Die gebied is uniek omdat dit 99% in private besit is. Dit is deur UNESCO erken en aanbeveel dat daar baie nou met die grondeienaars saamgewerk moes word.
Dit was egter gou duidelik dat die proses van proklamasie nie maklik sou wees nie en het die Vrystaat Grondeienaars Vereniging en Noordwes Grondeienaars Verenigings baie ure aan die saak bestee om ’n  aanvaarbare ooreenkoms met die regering te bereik.
Hierdie harde werk het uiteindelik ’n Memorandum van Ooreenkoms tot gevolg gehad op 26 Mei 2012 waarin die huidige regte van al die grondeienaars volgens wet voldoende beskerm sou word.
Sedert 26 Mei 2012 en die totstandkoming van die ooreenkoms is nog geen vordering met die aanstelling van ’n bestuursliggaam gemaak nie.
Die grondeienaarsverenigings is egter gebonde daaraan om die ooreenkoms tot uitvoer te bring en die Koepel grondeienaars se belange sover moontlik te beskerm.
Daarom is dit baie nodig dat alle grondeienaars en belanghebbendes Saterdag sal kom saamgesels en luister na wat die moontlike pad vorentoe is.
Aan die einde van die dag sal daar ’n  kenmekaar braai wees wat gereël word deur Dorothy van Witklipbaai.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button