NewsNews

Sakeman en sanger se ma sterf in tragedie op R59

Die skok en seer van die dood van ’n  ouer het Dinsdagoggend ’n  tragiese werklikheid geword vir twee families van Parys wat ’n  pa en ’n  ma onderskeidelik in ’n  trompop botsing op die R59 sowat 2km van die Parys-vliegveld verloor het. Christie Barnard (61), ma van die sanger Adam Barnard, en Sarel Human (49), …

Die skok en seer van die dood van ’n  ouer het Dinsdagoggend ’n  tragiese werklikheid geword vir twee families van Parys wat ’n  pa en ’n  ma onderskeidelik in ’n  trompop botsing op die R59 sowat 2km van die Parys-vliegveld verloor het.
Christie Barnard (61), ma van die sanger Adam Barnard, en Sarel Human (49), ’n  sakeman van Parys, is op die toneel oorlede. Albei was alleen in hul voertuie, ’n  Toyota Fortuner en ’n  Ford Kuga. Verkeer is vir etlike ure ontwrig terwyl opruimingswerk op die toneel gedoen is.
Christie was oppad na Adam om hom op te laai vir dialise wat hy moes ontvang in Potchefstroom as deel van sy behandeling vir sy stryd teen Neuropatie. Christie was juis in die proses om vir Adam ’n  nier te skenk.
Sy en haar man, Louis wat in Irak werk, bly op ’n  plaas tussen Parys en Sasolburg.  Christie word oorleef deur Louis, haar kinders Adam en Jenske, en klein Carmie, haar 6 maande oue kleinkind, asook ’n  suster.
Hulle wat haar so liefgehad het sal haar onthou as ’n  baie sterk, dinamiese en stylvolle vrou. Skaars ’n  maand gelede het Adam op Moedersdag aan haar hulde begin met ’n  Facebook-boodskap: “Spesiaal vir my moeder. Dankie, dankie, dankie. Sy is ’n  sterk vrou, maar nog ’n  sterker ma.”
In ’n  verklaring gister het die familie gesê hulle is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en liefde.
Sarel was Adam se vriend, Ruben Human se pa. Hy was ’n  jarelange en bekende inwoner van Parys wat onder meer in die houtwerkbedryf en skrootmetaal bedryf betrokke was met sy ondernemings Koepel Kaste en Koepel Scrap. Hy was ‘n kranige hengelaar en ‘n mense-mens. Hy word oorleef deur sy vrou, Sanette met wie hy 30 jaar getrou was, sy kinders, Ruben, Tiaan en Thalia, 5 kleinkinders, broers en susters en sy familie.
Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Adam Barnard saam met sy ma, Christie wat gister in ‘n trompop botsing op die R59 net buite Parys gesterf het. Nog ‘n Parysenaar, sakeman, Sarel Human (foto hieronder), is ook in die ongeluk oorlede.

Related Articles

Back to top button