NewsNews

Die geregsnet trek al stywer vir hengel oortreders

Die probleem met onwettige nette in damme en riviere nie net in die Vrystaat provinsie nie, maar  landwyd, is Dinsdag 6 Junie ook op Parys aangespreek toe lede van die Sasolburgse en Welkomse honde-eenhede, Parys SAPD en vrywilligers van Sunwa, beslag gelê het op 24 van hierdie onwettige nette. Die nette, waarvan die meeste gooinette …

Die probleem met onwettige nette in damme en riviere nie net in die Vrystaat provinsie nie, maar  landwyd, is Dinsdag 6 Junie ook op Parys aangespreek toe lede van die Sasolburgse en Welkomse honde-eenhede, Parys SAPD en vrywilligers van Sunwa, beslag gelê het op 24 van hierdie onwettige nette.
Die nette, waarvan die meeste gooinette was, maar ook ’n paar spannette, is by die Parys-polisiestasie ingehandig.
Die operasie het gevolg nadat Parys-polisiestasie aansoek gedoen het vir ’n  grootskaalse optrede weens die groeiende aantal klagtes oor onwettige nette veral tussen Villa Riviera en die Mimosa Tuine.
Dit het daartoe gelei dat verteenwoordigers van Natuurbewaring verlede week in die dorp was en dat die hulp van a.o. Holtzhauzen van Welkom en a.o. Basie Matthee van Sasolburg gevra is.
Van die hengel oortredings wat dikwels by riviere, soos die Vaalrivier, maar veral ook die Wilgerivier gesien word, is hengel met nette, mense wat geelvis vang en sogenaamde “jig”, sê die polisie.
Geelvisse is ’n bedreigde visspesie en moet teruggeplaas word in die rivier of dam sou dit gevang word.
Ongelukkig word die nette dikwels deur oortreders in die water geplaas en dan gelos wat beteken dat die visse vrek omdat hulle té lank in die nette is. Dit beteken ook dat dit baie moeilik is om die skuldiges vas te trek omdat die nette verlate gevind word en niemand dan verantwoordelikheid daarvoor wil aanvaar nie.
Met Dinsdag se operasie is gewerk vanaf die hangbrug tot by die Sandgat.
Die polisie waarsku oortreders dat hulle sal voortgaan om op te tree en dat die skuldiges voor die hof gebring sal word.
In Desember 2016 was daar ’n  soortgelyke optrede in Parys toe verteenwoordigers van DESTEA (Department of Economic, Small Business Development, Tourism & Environmental Affairs) in die Vrystaat, die polisie, die Sasolburgse en Welkomse honde-eenhede en Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) aan ‘n operasie deelgeneem het waar toegeslaan is op mense wat nie volgens wetlik voorgeskrewe reëls hengel nie.
Daar is toe 9 fuik koi nette gekonfiskeer en dagvaardigings met ‘n R500 boete elk aan vier persone uitgereik.
Sowat ’n  maand gelede het die polisie se watervleuel ook sowat 5 000 meter visnet met honderde dooie vis uit die Vaalrivier, by die UJ gronde in die Vaal Marina area, getrek.

Related Articles

Back to top button