NewsNews

DBV-inspekteur gearresteer ná klag van honde-eienaar

’n Leerling inspekteur in diens van die Parys DBV is Donderdagmiddag net na 14:00 deur die polisie in hegtenis geneem nadat ’n  honde-eienaar haar van die diefstal van sy hond aangekla het. Dit klag spruit uit ’n  voorval op 15 Mei toe die hond as rondloperhond deur die plaaslike DBV geskut is, en toe 9 …

’n Leerling inspekteur in diens van die Parys DBV is Donderdagmiddag net na 14:00 deur die polisie in hegtenis geneem nadat ’n  honde-eienaar haar van die diefstal van sy hond aangekla het.
Dit klag spruit uit ’n  voorval op 15 Mei toe die hond as rondloperhond deur die plaaslike DBV geskut is, en toe 9 dae later in lyn met DBV-beleid van kant gemaak is.
Die plaaslike DBV het ’n ooreenkoms met die Ngwathe munisipaliteit om as skut vir kleiner diere vir die hele Ngwathe op te tree. Hoewel die oorspronklike ooreenkoms net vir ’n  jaar was, is die ooreenkoms met die wisseling van munisipale bestuurders nog nie weer skriftelik hernu nie, maar betaal die munisipaliteit steeds maandeliks die ooreengekome bedrag aan die DBV vir skutfooie, sê Simon Olley, waarnemende voorsitter van die Parys DBV.
Mnr. Olley het die arrestasie bevestig en gesê dat hy net na 14:00 gistermiddag in kennis gestel is daarvan. Volgens mnr. Olley is hy nie toegelaat om haar by die Tumahole-polisiestasie te sien waar sy aangehou is nie, omdat hy nie haar regsverteenwoordiger is nie.
Luidens die ooreenkoms met die munisipaliteit word van die DBV verwag om alle rondloperdiere te skut vir ’n  6 dae periode soos deur die munisipale bywette bepaal word, tensy die DBV-inspekteur of veearts sou vind dat die dier weens besering of ander toestand dadelik van kant gemaak moet word.
Nuwe bywette vir die munisipaliteit is nog nie in plek nie en die ou bywette ook nog nie herroep nie.
DBV beleid bepaal dat die organisasie ’n dier vir 7 dae aanhou en versorg waarna ’n  besluit oor die toekoms van die dier geneem moet word. As daar ’n  moontlikheid is dat die dier aangeneem kan word, word die dier vir aanneming beskikbaar gestel.
Sou die dier egter binne die 7 dae periode nie deur sy eienaar uitgeken en die skutfooie betaal word nie, word die dier van kant gemaak as daar nie ’n  moontlikheid vir aanneming is nie, wat ook dan in die geval gebeur het.
Sou ’n  eienaar wel die dier kom opeis ná die skutperiode verby is, moet die dier eers gesteriliseer word voordat dit aan die eienaar terugbesorg mag word ingevolge DBV-beleid.
Die polisiewoordvoerder vir die streek, kapt. Levhani Hani, het gesê die polisie sal deur die loop van die dag ’n verklaring uitreik.
Die Nasionale Raad van DBVs het gesê dat hulle nie op hierdie stadium gaan kommentaar lewer nie, maar hul eie ondersoek sal doen oor die aangeleentheid en daarna sal reageer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button