NewsNews

‘Eskom, dié ellende is jou skuld!’

Alet Van Der Walt skryf op Netwerk 24 Baie mense is baie kwaad vir Eskom. Oor baie dinge. Soos Brian Molefe. Beurtkrag. Duur krag. Of strafkrag, soos waarmee die dorpies onlangs gedreig is. Alles stene des aanstoots. Maar ek is die kwaadste vir Eskom oor die WhatsApp-groep. Ja, die WhatsApp-groep. Want sien, as dit nie …

Alet Van Der Walt skryf op Netwerk 24
Baie mense is baie kwaad vir Eskom. Oor baie dinge. Soos Brian Molefe. Beurtkrag. Duur krag. Of strafkrag, soos waarmee die dorpies onlangs gedreig is.
Alles stene des aanstoots.
Maar ek is die kwaadste vir Eskom oor die WhatsApp-groep.
Ja, die WhatsApp-groep. Want sien, as dit nie vir Eskom was nie, sou ek nooit so ’n lat vir myself gepluk het nie.
Dis 2015, dis beurtkrag en kort-kort is die ligte af. Almal wil weet wanneer is wie af en almal vra vir my. Want joernaliste weet mos alles, of so dink die publiek.
Die vraery maak my mal – ek antwoord 30 of 40 WhatsApps per dag, net oor Eskom se beurtkrag.
Maar toe kry ek een van my briljante idees. Briljante idees eindig dikwels in rampspoed, soos ons almal weet, maar nooit onthou nie.
Ek stig toe ’n WhatsApp-groep en elke keer as ek ’n navraag oor die krag kry, voeg ek die mense by as lede van die Hennenman Inligtingsgroep.
Die groep groei verby die 100-merk en ek voel nogal trots op myself. Die beurtkragskedules word gereeld geplaas en daar is orde in die duisternis.
Maar die klein jakkalsies word saam met die lede ook al hoe meer.
Nou kyk, Hennenman se groep is nie soos Margaret se hokkiegroep nie – hy is erger. Geen opwinding nie, 100% frustrasie. Niemand luister nie, niemand hou by die reëls nie.
Kletspraatjies en onnodige plasings is verbode. Die tannies vergeet egter hulle is op die groep en stuur prentjies met sterretjies en blommetjies en liefdevolle wense. Foto’s van kleinkinders in Australië word ook trots met die dorp gedeel.
Ander inwoners wat die reëls ken en ter harte neem, stuur vir my regstreeks ’n boodskap om te kla dat die reëls verbreek word.
Dan vra die lede of hulle ook ondernemings op die groep mag adverteer. Ek stem in en so word die lat wat ek vir myself gepluk het ’n stewige rottang.
Verlore honde, tweedehandse “taaiers”, “mekeniekwerk”, “panelbeating”, “panekoek”, “beskyt”, “hout photo rame”, ’n pap dispenser, ’n “whelder”, “prifaat” huise om te huur, ’n “spreierstel vir jou tyn”, ’n “pakie na Bloemfontyn”, beste wense vir ’n lekker “dagie” en ’n “tanie wat ’n lift soek en sal waardeur”, word alles deel van die taalkundige hel waardeur ek moet gaan.
Sommige waardeer darem my moeite en ek byt vas.
Dit word egter al hoe erger. Die groep ontaard in iets tussen Jerry Springer, Disleksies-anoniem en een helse vlooimark wat ’n nagmark ook is.
Ek maak twee groepe, nood en inligting en koop en verkoop. Ek lê die reëls neer. Ek probeer ’n super tiran wees, maar voel te sleg, want wat as ek nou in die Spar kom en daai liewe ou tannie wat nie ore het nie, is ook daar?
Die godsdienstiges dink die reëls geld nie vir hulle nie en dink ek is van die duiwel uit die hel as ek vra dat kerksake ook van die groep af gehou word.
Die DA’s dink ek is ’n Zuma-ondersteuner as ek hulle aansê om ook politiek van die groep af te hou.
Word die kragkabels gesteel, loop die WhatsApps soos volg:
Ek: Daar is gisternag kabels in die dorp gesteel. Wees geduldig, Johan werk daaraan.
Anne: Whitestraat is af.
Koos: Totius is ook af.
Soné: Voortrekker ook.
Tannie Bets: Ai mense, hulle steel ook alles.
Pieter N: Ons krag is aan in Beyers.
Adri: Ons krag is af in President.
Pieter V: Ag nee, waar gaan ons land heen.
Koos: Totius is nou aan.
Johnny: Dankie tog.
Soné: Dankie Johan.
Anne: Ja, dankie Johan.
Ja, en ek, ek bid vir genade, wysheid en ’n wag vir my spreekwoordelike mond, want virtuele papier is nie altyd geduldig nie.

Related Articles

Back to top button