NewsNews

Ou Wêreldse sanger in ons tuin

Hulle sing en roep in ons tuine van vroegoggend en deur die loop van die dag. Hulle kan nogal erg tekere gaan met ’n skerp alarmroep as daar ’n slang, ‘n kat of ‘n uil in die boom of in die nabyheid is. Die Rooi-oog tiptol/Red-eyed Bulbul (Pycnonotus nigricans), behoort aan ’n  familie van ou …

Hulle sing en roep in ons tuine van vroegoggend en deur die loop van die dag. Hulle kan nogal erg tekere gaan met ’n skerp alarmroep as daar ’n slang, ‘n kat of ‘n uil in die boom of in die nabyheid is. Die Rooi-oog tiptol/Red-eyed Bulbul (Pycnonotus nigricans), behoort aan ’n  familie van ou wêreldse singvoëls wat endemies tot die Suider Afrikaanse streek is. Hulle kom in Namibië, Botswana en wes en sentraal Suid-Afrika voor.
Hulle bewoon ’n verskeidenheid habitatte van die droë weste, doringveld, rivierbos tot tuine en parke. Hulle is ook permanente inwoners in die Vredefort Koepel, waar hulle oral in die gebied waargeneem kan word. Let op in jou tuin vir ’n voël wat groter is as ’n  mossie, maar kleiner as ‘n lyster. Sy kleure wissel van liggrys tot donkergrys met kuifagtige vere op die swart agterkop (sien foto www.parysgazette.co.za). Sy mees uitstaande kenmerke is egter die rooi kringe om die oë, die geel vere onder die stert en steekhare om die snawel. Na aanleiding van die geel kol onder die stert, is hulle in sekere streke, in die omgangstaal bekend as “geelgatte” of “bottergatte”.
Die voëls kom algemeen in ons tuine voor omdat hulle maklik met die mens en sy omgewing assosieer. Dis nie verbasend nie, want in die meeste tuine is daar vrugte-en-ander bome en struike wat blomme en vrugte dra, wat die tiptol se voorkeur voedselbron is. Hulle is hoofsaaklik vrugtevreters, maar vul hulle dieet aan met die nektar van aalwyne en ander blomme. Wanneer die vrugte skaars is sal hulle ook jag maak op ‘n verskeidenheid insekte wat hulle op die grond of in vlug vang. Hulle is ook van die mees gereelde besoekers aan die voertafel, met vrugte, in die tuin asook die suikerwaterbottel (nectar feeder).
Tiptolle is monogame broeiers en die mannetjie sal sy nesgebied aggressief teen ander mannetjies verdedig. Die nes word deur die wyfie alleen gebou. Dit is ‘n slordige bakkie, gebou van droë, fyn plantmateriaal, versterk met spinnerakke. Die broeiseisoen strek van September tot April, maar piektyd is meesal Oktober tot Desember. Twee tot drie eiers word gelê en word deur die wyfie binne 11 – 13 dae uitgebroei.

Related Articles

Back to top button