NewsNews

Hart eis sakeman in gym

VANDERBIJLPARK. – ‘n Massiewe hartaanval het vermoedelik verlede Maandag die lewe van die sakeman mnr. Henry Swanepoel (42) by Virgin Active se Vanderbijlpark-gimnasium geëis. ‘n Vermoedelike massiewe hartaanval het Maandag die lewe van die Vaaldriehoekse sakeman, mnr. Henry Swanepoel, geëis terwyl hy besig was om by Virgin Active in Vanderbijlpark te oefen. Volgens sy familie …

‘n Vermoedelike massiewe hartaanval het Maandag die lewe van die Vaaldriehoekse sakeman, mnr. Henry Swanepoel, geëis terwyl hy besig was om by Virgin Active in Vanderbijlpark te oefen. Volgens sy familie en vriende is sy dood ‘n geweldige skok, veral omdat hy baie fiks was en nog nooit voorheen hartprobleme gehad nie. Hier is hy saam met sy vrou, Gina, eienares van die Plaasklonkies Kleuterskool.

Henry was verlede Maandag besig om op die trapmeul (treadmill) te draf toe hy skielik inmekaar gesak het. Die nooddienste is onmiddellik ontbied maar hulle kon niks verder vir hom doen nie.

Virgin Active het hul lede na die voorval per SMS laat weet dat die tak vir die res van die dag weens ‘n “mediese noodgeval” gesluit sou wees en dat hulle by ander gimnasiums in die gebied kon gaan oefen. Talle vriende en mede-klublede wat gereeld saam met Henry geoefen het, het eers Maandagoggend met skok van sy dood gehoor.

Dit was Maandagaand lede van die betrokke ambulansdiens se moeilike taak om sy vrou en kinders by hul huis op die Emfuleni-gholflandgoed oor sy onverwagse dood te gaan inlig. “Dit voel of ek nooit weer gaan ophou huil nie,” het sy vrou, Gina, Maandag hartseer aan Vaalweekblad gesê.

“Henry was baie gesond en het nog nooit hartprobleme gehad nie. Hy het gereeld geoefen en was baie fiks want hy wou graag voorbereid wees vir die volgende Argus,” sê sy.

“Die afgelope jare was van die gelukkigste in my lewe. Henry was ‘n wonderlike pa vir ons kinders. Hy was ‘n paar keer per week op die sportveld of by judo-klasse saam met ons seun,” sê Gina, die eienaar van die gewilde Plaasklonkies Kleuterskool op Mantevrede.

Henry het die afgelope 27 jaar in die Vaaldriehoek gewoon en was verbonde aan Barrage Auto Sales. Van sy vriende het Maandag aan Vaalweekblad gesê hulle sal hom altyd onthou as ‘n baie nederige, rustige mens wat naby God geleef het.

“Hy was ook baie hardwerkend en gedissiplineerd,” sê Niel Botha, eienaar van Carz.com wat die afgelope agt jaar een van Henry se beste vriende was.

Die presiese oorsaak van dood sal later die week deur middel van ‘n lykskouing bepaal word.

Henry word buiten sy vrou Gina ook oorleef deur hul kinders, Kita (12), Henry (9) en Lua (6), en sy dogter uit sy vorige huwelik, Chané (22).

* Virgin Active se Vanderbijlpark-gimnasium wou by navraag nie kommentaar oor die hartseer gebeure lewer nie. Vaalweekblad is na Virgin Active se hoofkantoor in die Kaap verwys, wat aangedui het dat ‘n persverklaring later uitgereik sal word.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button