NewsNews

Verlamde rugbyspeler sterf na 18 jaar

Familie en vriende groet geliefde Pierre Lamont Pierre Lamont in sy rolstoel tydens een van die talle rugby-gesellighede wat hy deur die jare bygewoon het. Hier is hy saam met die Springbokke Jean de Villiers (links) en Schalk Burger jr. regs. FOTOGRAAF Carl Fourie / Gallo Images Retha Fitchat VEREENIGING. – Een van die Vaaldriehoek …

Pierre Lamont in sy rolstoel tydens een van die talle rugby-gesellighede wat hy deur die jare bygewoon het. Hier is hy saam met die Springbokke Jean de Villiers (links) en Schalk Burger jr. regs. FOTOGRAAF Carl Fourie / Gallo Images

Retha Fitchat

VEREENIGING. – Een van die Vaaldriehoek se mees inspirerende rolmodelle, Pierre Lamont (34), het Sondagnag in sy slaap gesterf.

Pierre was ‘n 16-jarige skoolseun van die Hoërskool Vereeniging toe sy lewe op 5 Junie 1999 vir altyd verander het. As senter van sy skool se eerstespan het hy tydens ‘n rugbywedstryd teen Hoërskool Driehoek ‘n teenstander geduik, waarna ‘n losgemaal bo-op hulle ontstaan het. Pierre is in die proses so ernstig beseer dat hy op die grond bly lê het.

Hy is dadelik na die destydse Medivaal (nou Mediclinic Emfuleni) in Vanderbijlpark vervoer, waar hy in die waakeenheid behandel en aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel is. Daar is later vasgestel dat twee van sy nekwerwels gebreek is. Die seun wat so fanaties was oor rugby en daarvan gedroom het om eendag ‘n beroepspeler te word, sou vir die res van sy lewe ‘n kwadrupleeg in ‘n rolstoel wees.

Pierre het in die jare daarna aan Vaalweekblad vertel van die frustrasie en uitdagings, maar ook hoe hy deur ‘n proses van aanvaarding gegaan het en uiteindelik op sy Facebook dié beskrywing van homself kon gee: “I’m a quadriplegic who got injured years ago in a rugby match at the age of 16. I’m a Christian who lives life to the fullest and have a positive mindset. Love rugby!”

Dit is dié positiewe ingesteldheid wat hom so gewild onder vriende en familie gemaak het. Sy vriende het hom gereeld saamgeneem na rugbywedstryde en hy het die gereelde uitstappies na die Emerald Resort & Casino of winkelsentrums saam met sy ouma ook baie geniet. Hy het deur die jare ‘n vurige Lions-ondersteuner gebly en groot genot uit rugby-debatte geput. Hy het homself ook as ‘n “people watcher” beskryf en in die proses heelwat mensekennis opgedoen. Talle van sy vriende het deur die jare in moeilike tye raad en troos by hom kom soek.

Volgens sy broer, Jacques (33), wat met sy versorging by hul ouerhuis in Arconpark gehelp het, het Pierre Sondagaand nog na ‘n sokkerwedstryd op TV gekyk. Hoewel Pierre soms las van blaas- of nierpypontsteking gehad het, was hy nie siek nie. Daar was geen teken wat hulle daarop voorberei het dat hy gedurende die nag sou sterf nie. Die presiese oorsaak van sy dood is nog onbekend en sal met behulp van ‘n post mortem bepaal word.

Talle Facebook-boodskappe getuig sedert Maandag van hoe geliefd Pierre in sy familie en groot vriendekring was. Die boodskappe spreek nie net skok en verdriet oor sy dood uit nie, maar vier ook die lewe van dié jong man, wat ondanks sy eie uitdagings altyd ‘n omgee-mens en ware rolmodel vir ander was.

Só skryf Susan Lamont: “Vandag het Jesus een van Sy kosbaarstes kom haal. ‘n Stuk van my hart is saam met jou Hemel toe. Moenie ophou hardloop en spring daar bo nie. Die Here het jou nog ‘n rukkie vir ons geleen. Jy was so ‘n inspirasie vir ons almal. Ons gaan jou baie mis.”

‘n Vriendin, Yolandé Potgieter, skryf: “RIP Pierre Lamont. Mag jy dans in die hemel en lekker rugby praat met almal wat reeds daar wag. Ons gaan jou mis. Maar ons smile want ons weet dat jy nou geen limiete het nie.”

Pierre word oorleef deur sy ouers, Amanda en Marius Lamont, sy ouma Susan, broer Jacques en suster Delancé.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button