NewsNews

Moordverhoor: Soortgelyke beserings, maar net een is oorgeplaas

Die hof sal môre ’n ondersoek ter plaatse doen waar Samuel Jubeda en Simon Tjixa op 6 Januarie 2016 deur boere en inwoners van die Weiveld-omgewing aangekeer is toe hulle ’n ander  boer van die omgewing, Loedie van der Westhuizen Sr, te hulp wou snel ná ’n beweerde plaasaanval. Die staat beweer dat die twee, …

Die hof sal môre ’n ondersoek ter plaatse doen waar Samuel Jubeda en Simon Tjixa op 6 Januarie 2016 deur boere en inwoners van die Weiveld-omgewing aangekeer is toe hulle ’n ander  boer van die omgewing, Loedie van der Westhuizen Sr, te hulp wou snel ná ’n beweerde plaasaanval. Die staat beweer dat die twee, toe hulle aangekeer is só erg aangerand is dat hulle kort daarna aan hul beserings in die hospitaal beswyk het.
Kruisondervraging van dr. Baung Lairi, die staatspatoloog, is vandag voortgesit in die verhoor van die ses mans van Parys wat tereg staan vir die moord op Jubeda en Tjixa.
Die mans is Boeta van der Westhuizen (47) en sy seun Loedie (19), Anton Loggenberg (50) en sy seun Cor (20), Miela Jansen van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47).
Vandag het die hof gehoor dat ’n  duikslag en stoeibeweging waarmee die oorledenes glo herhaaldelik op die grond gegooi is, moontlik tot hul dood kon lei. Lairi het onder kruisverhoor toegegee dat die stoeibewegings waarmee die mans gegooi is, ernstige beserings kon veroorsaak en selfs tot die dood kan lei. Hy’t ook gesê dat die 6 gebreekte ribbes wat een van die oorledenes gehad het asemhaling kon beïnvloed het en ook die suurstofvloei na die brein kon belemmer het. Die verdediging het in kruisondervraging gevra of die gebreekte ribbes moontlik deur ’n  duikslag veroorsaak kon wees.
Lairi wat die lykskouing op die oorledenes gedoen het, het Vrydag getuig dat die mans dood is aan breinbeserings.
In kruisondervraging het adv. Hans de Bruin gesê daar is verklarings gemaak deur ooggetuies wat beweer die duik en die gooi van Jubeda en Tjixa is gedoen deur mense wat nie onder die 6 beskuldigdes is nie.
Dit het ook uit die ondervraging aan die lig gekom dat Simon Tjixa klaarblyklik met sy aankoms by die Parys-hospitaal by sy “bewussyn” was, maar volgens Lairi kan só ’n  helder oomblik by iemand met ’n  breinbesering voorkom.  Al twee oorledenes het dieselfde soort beserings gehad maar net Jubeda is na ’n  Bloemfonteinse hospitaal oorgeplaas.
Die hospitaalverslag lees dat Tjixa pynpille gegee is en dat hy om 12:30 die oggend van 7 Januarie nog “reg” was en geslaap het. Hy is ’n  paar ure later dood.
Vroeër die oggend is met verwysing na ’n getuie wat glo sal getuig dat Loggenberg op een van die mans se koppe sou getrap het, gekyk na die skoene wat Loggenberg dra en moes Lairi toegee dat daar dan merke sou moes wees op die kop en gesig van die slagoffer. Veral omdat Loggenberg as ’n  uitsonderlike groot man in die hof beskryf is.
Daar was geen skoenmerke gekry nie en ook nie merke aan die mans se liggame wat daarop kon dui dat hulle met ’n elektriese skokstok geskok is nie, hoewel sulke skokke nie altyd merke op ’n  liggaam laat nie.
* Regter Corné van Zyl het vroeër uitspraak voorbou in die aansoek van die SAUK om die verhoor regstreeks te beeldsend hangende die uitslag van die appélhof Donderdag 18 Mei op ’n soortgelyke aansoek van Media 24 in die Van Breda bylmoord verhoor. Intussen het Van Zyl gelas dat die verhoor wat tot 26 Mei op die hofrol geplaas is, sal voortgaan en dat stil foto’s en video’s maar geen audio materiaal 15 minute voor die hof sit en ná die hofsitting geneem mag word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button