NewsNews

Die goeie ou Potch – Jou Ma Se Potch

Jou Ma Se Potch is Puk-studente, Frankie Bielfeld en Eddie Hyde, se oplossing op ʼn kultuurlose stad… Frankie Bielfeld en Eddie Hyde, die breinkrag agter Jou Ma Se Potch. Foto: Marianke Saayman Iewers tussen die besige strate van die kuierplekke op die Bult, die hard geswottery en die harder gedrinkery het twee geniale jong mans …

Frankie Bielfeld en Eddie Hyde, die breinkrag agter Jou Ma Se Potch. Foto: Marianke Saayman

Frankie Bielfeld en Eddie Hyde, die breinkrag agter Jou Ma Se Potch. Foto: Marianke Saayman

Iewers tussen die besige strate van die kuierplekke op die Bult, die hard geswottery en die harder gedrinkery het twee geniale jong mans besluit om kultuur terug te bring na Potchefstroom. Nie net enige kultuur nie, maar die kultuur wat in die strate was toe Memphis Rock nog elke student se gunsteling kuierplek was, toe hartsvriende nog tussendeur hul studies kans gekry het om ʼn garage band te begin en musiek die primêre taal in Potch was. Toe die jong man met die groot drome met ʼn kitaar op die amfiteater gesit en geld insamel het sodat hy nog net een dop kan geniet met ʼn atmosfeer van goeie musiek en beter tye.

Jou Ma Se Potch is Puk-studente, Frankie Bielfeld en Eddie Hyde, se oplossing op ʼn kultuurlose stad. Frankie en Eddie is twee jong mans wie se harte musiek klop en wie se bloed kultuur pomp. Hulle het besluit dat hulle nie net agteruit gaan sit en kyk hoe Potch verval na ʼn haastige gejaag na sukses waar selfie sticks en instagram in die pad van behoorlike tydverdryf kom nie.

Jou Ma Se Potch het eintlik al sy ontstaan in 2014 gemaak toe Frankie en sy vriend Martin de Lange in die Skryfkunsklas gesels het oor om ʼn geleentheid te skep vir mense om hul eie gedigte te kan voorlees. Eddie het deel van die gesprek geword, en so het die eerste Ritmies, Liries byeenkoms op die grasperk voor die Ferdinand Postma Biblioteek plaasgevind. Mense het hul gedigte voorgelees en musiek gespeel. “Ons het begin met seker so 30 mense, en van daar af het dit net gegroei,” sê Eddie.

Vanjaar het die duo besluit om ʼn nuwe blaadjie oor te slaan en die hele projek met ʼn nuwe oog te bekyk. “Ons het besluit om verder, vinniger en meer te gaan deur ʼn paar veranderinge te maak,” sê Frankie. Die eerste om te gaan, was die naam.

Die naam Jou Ma Se Potch het ʼn hele twee biere geneem om uit te dink en is ʼn resultaat van Frankie se vuil gedagtes gepaard met ʼn bietjie slim woordspeling. “Daar is ook nostalgie daaraan gekoppel. Ons probeer teruggaan na jou ma se Potch toe, die goeie ou Potch met die baie kultuur.” Hulle noem dit Memphis-nostalgie. Die tyd toe die bekende kuierplek Memphis Rock nog in Potch was, was ʼn tyd toe daar nog baie musiekgroepe uit Potch uit gekom het en toe musiek en kultuur nog om elke hoek en draai lewend was.

“Die kuns het net dood gegaan en plek gemaak vir ʼn my-spiere-is-groter-as-joune-kultuur. Ons wil die kultuur terugbring in Potch in.”

Jou Ma Se Potch is ʼn platform wat die geleentheid bied vir jong en opkomende kunstenaars om hul talente uit te beeld voor ʼn gehoor. Volgens Frankie en Eddie is die doel van die inisiatief nie net vir musiek nie, maar vir enige tipe kuns.

“Dit gaan nie net oor musiek nie, dit gaan oor kultuurbou.”

Hulle sê dat as iemand ʼn kunsuitstalling of toneel wil hou, kan hulle dit onder Jou Ma Se Potch doen en hulle as ondersteuningsnetwerk gebruik. “Die hele punt van Jou Ma Se Potch is om jou idee onder die naam te sit. Ons wil hê mense moet klou aan die naam. Dit is oop vir almal, dis soos ʼn gemeenskap wat ons probeer skep.”

Jou Ma Se Potch hou elke Dinsdag ʼn vertoning by Texas Saloon, moenie dit misloop nie. Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, stuur ʼn e-pos na joumasepotch@gmail.com. Gaan Like ook hul Facebook blad by https://www.facebook.com/joumasepotch/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button