NewsNews

Oud Parys-skolier sterf saam met sy vrou en seuntjie ná rugbywedstryd

“Hierdie was my langste beste vriend. Ons is van kleuterskool af saam. Deur matriek…ons wou die wêreld verander toe ons op Hoërskool was in Parys. Vanoggend was ek by my seuntjie se bulletjierugby in Pretoria…en Frank by sy seun se rugby êrens op ’n  ander dorp…maar tragies is hy en sy vrou en seuntjie oorlede …

“Hierdie was my langste beste vriend. Ons is van kleuterskool af saam. Deur matriek…ons wou die wêreld verander toe ons op Hoërskool was in Parys. Vanoggend was ek by my seuntjie se bulletjierugby in Pretoria…en Frank by sy seun se rugby êrens op ’n  ander dorp…maar tragies is hy en sy vrou en seuntjie oorlede in ’n  ongeluk oppad huistoe. Hier waar ek staan is ek stukkend. Ek en my pêl het baie planne gehad vir die toekoms. Maar ek het besef…die dag van môre is aan niemand beloof nie. Gee dadelik julle kids ’n  druk en vertel vir almal vir wie jy lief is…want die lewe is kort…en ’n  gift…gaan jou mis my vriend. Rip Frank Streicher en sy gesin…”
Só het sanger Jak de Priester,  op sosiale media geskryf kort na die dood van Frank Streicher, sy vrou Celesté en hul seuntjie, Franko, gistermiddag 6 Mei, in ’n  motorongeluk op die Gravelotte-pad tussen Phalaborwa en Tzaneen.
Die gesin was saam met die 19-jarige Lenisé Janse van Vuuren, ’n  onderwysstudent wat haar internskap by Laerskool Phalaborwa gedoen het, en ’n  maatjie van Franko, Janco Oberholzer, op pad terug huistoe na ’n  rugbywedstryd.
Lenisé is ook in die ongeluk dood. Net Janco het oorleef, maar is met onder meer ernstige kopbeserings in die hospitaal opgeneem.
Frank se ma, Herna, is van Parys
Hier waar sy broers, Gerhard en Jaco en hul familie, saam met ’n  dorp met talle van sy oudskoolmaats treur oor ’n dierbare vriend en gesin wat diep spore getrap het, veral in Phalaborwa waar die gesin die afgelope sowat 10 jaar gevestig is en Frank fisioterapeut was by Frank Streicher fisioterapeute.
’n  Gesin wat bekend was vir hul omgee en uitreik na ander.
Die Streicher-gesin se dogtertjie, Lua, het in ’n ander voertuig saam met maatjies, gery toe die ongeluk gebeur het. Sy is nou die enigste oorblywende lid van die gesin.
Die Streichers wat in ’n  Toyota Prado gery het,  het klaarblyklik probeer uitswaai vir ’n  aankomende vragmotor, waarna die voertuie kop-aan-kop geborts het. Die presiese omstandighede van die ongeluk is nog nie bekend nie.
’n  Dag voor die tragiese gebeure het Frank nog op Facebook geskryf hoe opgewonde hulle as ouers is om na Franko se eerste bulletjie rugbywedstryd te gaan kyk. ’n  Wedstryd waar hy ook sy eerste  drie vir sy skool gedruk het. Ná die drie het ’n baie trotse Frank op Facebook die inskrywing gemaak: “Franko druk sy eerste drie!!! Wat ’n  special moment,” saam met ’n  foto van hom en Franko.
Volgens die Far North Bulletin was die Streichers en Van Vuuren Saterdag by ’n  skolerugbydag by die Dr Annecke Primary School in Letsitele.
Celesté het skool gehou by Laerskool Phalaborwa (Groenskool) waar Franko en Janko ook leerlinge is.
Talle huldeblyke en boodskappe van medelye is sedert gistermiddag op Facebook geplaas deur die talle vriende, familie en ander wat die gesin geken het en in wie se harte hierdie mense diep spore getrap het.
Die begrafnisreëlings vir die Streichers is intussen op Facebook bekend gemaak. Dit is op Saterdag 13 Mei om 12:30 in die NG Kerk Phalaborwa.

Related Articles

Back to top button