NewsNews

Twee het nog geleef hoor hof

Van die lang lys van getuies wat die staat oor die volgende paar dae sal roep, sal onder meer getuig hoedat die woorde, “Vrek bliksem, vrek” glo geuiter is op die toneel waar 2 mans in Januarie 2016 op ’n plaas in die Weiveld-distrik na bewering só erg aangerand is dat hulle later gesterf het. …

Van die lang lys van getuies wat die staat oor die volgende paar dae sal roep, sal onder meer getuig hoedat die woorde, “Vrek bliksem, vrek” glo geuiter is op die toneel waar 2 mans in Januarie 2016 op ’n plaas in die Weiveld-distrik na bewering só erg aangerand is dat hulle later gesterf het.
Anton Loggenberg (50) en sy seun Cor (18), Boeta van der Westhuizen (46) en sy seun Loedie, Miela Jansen van Vuuren (22) en kapt. Henk Prinsloo (46), staan almal tereg op 2 klagte van moord na die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa, terwyl Boeta van der Westhuizen en sy seun, Loedie, ook tereg staan op ’n  klag van regsverydeling. Al 6 beskuldigdes het vanoggend onskuldig gepleit op die aanklagte voor regter Corné van Zyl in die rondgaande hof in Parys.
Jubeda en Tjixa se dood het gevolg ná meer as 40 boere glo die dag gereageer het toe die 73-jarige Loedie van der Westhuizen Sr, pa van Boeta van der Westhuizen en oupa van Loedie van der Westhuizen Jr, die noodknoppie op sy plaas in die Weiveld-distrik gedruk het toe hy na bewering aangeval is.
Boere van die distrik en tot sover as Koppies het in die lig van vroeëre waarskuwings oor ‘n moontlike plaasaanval in die spesifieke omgewing wat al in Desember 2015 bekend geword het, dadelik gereageer, en is die oorledenes deur van die boere op een van die buurplase in hegtenis geneem. Die oorledenes is toe glo sodanig beseer dat hul kort nadat hulle in hegtenis geneem is, aan hul beserings in die Parys-hospitaal en ’n  Bloemfonteinse hospitaal onderskeidelik gesterf het.
Vanoggend het die staat in ’n  opsomming aangedui dat sy getuies onder meer sal getuig hoe die oorledenes geslaan, geskop, daar op hulle gespring is en ’n  vuurwapen, moersleutel en waaierband na bewering ook in die aanranding gebruik sou wees. Ook dat daar na bewering die skoene en die waaierband gebrand is wat met die aanranding gebruik is, ten einde te verhinder dat die polisie die bewysstukke forensies kan ondersoek.
Daar sal getuig word oor die erns van die oorledenes se beserings wat veelvuldige kopbeserings en ligaamlike beserings ingesluit het, en hoe hulle hul bewussyn as gevolg van die beserings verloor het.
Die staat het in Augustus die klagte van moord teen Fanie Oosthuizen, Wian van der Westhuizen, Muller van der Westhuizen en Wikus van der Westhuizen wat vroeër ook onder die beskuldigdes was, teruggetrek. Hulle sal nou vir die staat getuig.
Die klagte van moord is vroeër ook teen Riaan Swart, teruggetrek en gewysig na twee klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is op beide klagte skuldig bevind en vonnisoplegging is uitgestel vir vyf jaar. Hy mag ook vir die volgende vyf jaar nie ‘n vuurwapenlisensie besit nie.
Die saak is op die hofrol geplaas tot 26 Mei.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button