NewsNews

Om ‘n brand te blus kan jou duur te staan kom

Sommige van ons is daarvan bewus dat jy ‘n stewige rekening van die brandweer kan ontvang indien hulle ontbied word om ‘n brand te blus, terwyl ander nie eers bewus is dat die onbeplande uitstappie jou geld uit die sak gaan jaag nie. Illustrasie foto Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het hul nuutste beplande tariefverhogings bekendgemaak, …

Illustrasie foto

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het hul nuutste beplande tariefverhogings bekendgemaak, waarvan brand- en reddingstariewe nie agtergebly het nie.
Stel jouself die volgende scenario voor: Jou huis brand en jy ontbied die brandweer. Jou huis is sowat 15km van die naaste brandweerstasie en twee brandweervoertuie met agt brandweermanne spring aan die werk om die brand te blus. Hulle gebruik drie brandslange en span twee lere in om ‘n reddingspoging uit te voer wat sowat ‘n uur duur. Sedert die brandweerpersoneel en voertuie die brandweerstasie verlaat het tot hulle terugkeer, neem drie ure. Wat sal jou rekening wees.
Rofweg sal die rekening van bogenoemde scenario jou sowat R11 000 uit die sak jaag. Indien jy versekering op jou huis het, dan is jy gelukkig genoeg dat jy nie nodig het om geld iewers uit te toor vir die onvoorsiene uitgawe nie.
Sou jy gebruik maak van Emfuleni Brandweer se dienste sal dit jou (soos die voorgestelde tariefverhogings aantoon) R850 kos per voertuig per uur wat uitgestuur word na die brand, R10 per kilometer, R23 per uur vir die gebruik van ‘n brandslang, R110 vir die gebruik van ‘n leer per toneel, ‘n reddingsboot beloop R448, terwyl ‘n reddingspoging jou R850 per uur sal kos. En dit is nie al nie. Jy betaal ook per uur vir elke brandweerman op die toneel.
Die prys word bepaal deur die brandweerman se rang. Dit wissel tussen R288 per uur (brandweerhoof) en R98 per uur (junior brandweerman).
Dan moet jy maar hoop dat die brand van so ‘n aard is dat dit nie nodig is vir ‘n hidrouliese platform en die gebruik van ‘n kompressor nie, want dit alleen beloop R850 en R125 per uur.
Aan die einde van die dag is die rekening van die brandweer seker een van jou minste bekommernisse, maar tog is dit altyd beter om goed ingelig te wees, en daarmee saam die nodige aandag te gee sodat ‘n klein foutjie soos om te vergeet om die verwarmer af te sit, jou nie duur te staan kom nie.
‘n Rekening van R11 000 is ook nie te versmaai as jy die uitgawes wat die munisipaliteit ten opsigte van die brandweer moet maak, in ag neem nie. Toerusting, salarisse, dienste van voertuie en die regte brandweertoebehore, om maar net ‘n paar te noem, koop jy nie met die kleingeld in jou beursie nie.
Aan die einde van die dag bly dit ‘n diens wat verskaf word vir diegene in nood, en daar is immers nie ‘n prys wat jy aan iemand se lewe kan koppel nie.


Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button