NewsNews

Jong boer beste in Noordwes

“Die ergste verkeer wat ek in die oggende kry is as die tarentale oor die grondpad hardloop.” Ro’an en sy vrou, Miquet, saam met hul twee seuns, Roan en Benroux. Foto: Marianke Saayman Vir Ro’an van Tonder is die lekkerste deel van wat hy vir ’n lewe doen om elke dag met God se skepping …

Ro'an en sy vrou, Miquet, saam met hul twee seuns, Roan en Benroux. Foto: Marianke Saayman

Ro’an en sy vrou, Miquet, saam met hul twee seuns, Roan en Benroux. Foto: Marianke Saayman

Vir Ro’an van Tonder is die lekkerste deel van wat hy vir ’n lewe doen om elke dag met God se skepping te werk. Ro’an is onlangs aangewys as Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar, en dit is duidelik hoekom. Ro’an is ’n besigheidsman en entoesiastiese entrepreneur. Hy het B.Com. ondernemingsbestuur en entrepreneurskap aan die NWU se Potchefstroomkampus studeer en het later ’n nagraadse diploma in ondernemingsbestuur gedoen.

Hy het, terwyl hy ’n inwoner van Caput manskoshuis was, reeds begin om entrepreneur te wees deur sakrekenaars en water aan studente te verkoop. “Ek het water in die dorp gaan koop en weer op kampus aan die eerstejaars gesmous.” Tydens vakansies het hy wors uit ’n koelkas in sy bakkie en braaihout verkoop. Hy verkoop vandag nog steeds sowat 20 000 sakkies sekelbos hout elke maand.
In 2010, toe Ro’an in sy finale jaar was, het hy en sy ouer broer, Werner, besluit om te begin boer en ’n klein plasie buite Potchefstroom gekoop.

Hier het hulle hul eerste wild gekoop – buffels, swartwitpense en goue wildebeeste. Dit was egter maar net die begin vir die Van Tonder broers. Later het hulle uitgebrei en Soetvelde, ’n plaas van sowat 1 250 ha gekoop waar Ro’an nou met sy gesin met ’n groot verskeidenheid wild boer. Hulle koop en teel met onder meer die beste swartwitpense, gemsbokke, goue- en rooi gemsbokke, swart rooibokke, njalas en koffie- en gewone kleur springbokke. Hul doen intensief teling en het reeds drie suksesvolle veilings agter die blad.

Die broers is tans besig om uit te brei na Namibië waar hulle van hul diere vir jagdoeleindes gaan gebruik. Dit behoort binne die volgende twee jaar gevestig te wees. Ro’an is baie dankbaar oor die toekenning en sê sy passie vir die boerdery het gemaak dat hy wen. “Daar is vir my niks lekkerder as om so met die Here se skepping te werk nie. Ek verkies dit om heeldag tussen die diere te wees, bokke te vang en in die veld te wees.”

Dit is vir hom baie spesiaal om te sien as daar nuwe kalfies aangekom het. “Dan wonder mens of hy gaan leef as hy in minus 10 grade celcius gebore word, hoe groot hy gaan word en hoe hy gaan lyk. Daardie raaisel is die meeste genot wat ek hieruit put.” Verder geniet hy net die plaaslewe.

“Die ergste verkeer wat ek in die oggende kry is as die tarentale oor die grondpad hardloop.”

Hy het veral ’n liefde vir die buffels. “Jy staan op aandag as hulle daar is. Al is hulle hoe mak en al is hulle hoe gewoond aan jou, jy kyk steeds oor jou skouer as jy in hulle kamp is, want jy weet dis een van die Groot 5 en dis een van die gevaarlikste diere in Suid-Afrika. ’n Mens het soveel respek vir hulle as jy tussen hulle is.”

Elke boerdery het sy uitdagings en risiko’s. Brande en diere wat siek word of doodgaan is elke jaar risiko’s wat nie vermy kan word nie, maar Ro’an sê plaasaanvalle is elke boer se grootste vrees. “Om hierdie wonderlike lewe te hê en jou kinders op die plaas groot te maak, kom altyd teen ’n prys. Ons lewe maar ekstra versigtig.” Hiervoor het Ro’an ’n patrolliegroep geïnisieer waar sowat 30 boere in die omgewing elke aand patrolleer om misdaad te bekamp.

Ro’an hoop dat sy twee seuns ook eendag die passie vir die boerdery sal hê. Sy jongste, Benroux, is nou vier maande oud en klein Roan word in Junie 3. Roan is mal oor die plaas. “Op sy ouderdom ken hy al die diere en noem hulle op soos ons verby hulle ry.” Sy gunsteling is natuurlik die buffels en hy is ook lief vir die gemsbokke.

Ro’an sê dat hierdie toekenning net soveel aan sy broer, Werner, gaan aangesien hulle al van 2010 af saam boer. Ro’an dring nou deur na ’n landwye kompetisie om moontlik as Jongboer van die Jaar in Suid-Afrika aangewys te word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button