NewsNews

Hof sê man het rede gehad om te glo sy lewe was in gevaar

Die 28-jarige Petrus Johannes de Bruyn is op 7 April in die streekhof in Parys onskuldig bevind aan ’n  klag van moord op ’n onbekende man wat op 22 Mei 2015 in ’n padstal op die plaas Reitz in die Vredefort-distrik gesterf het. Só het landdros Rudie Smith bevind toe hy die verdediging se verweer …

Die 28-jarige Petrus Johannes de Bruyn is op 7 April in die streekhof in Parys onskuldig bevind aan ’n  klag van moord op ’n onbekende man wat op 22 Mei 2015 in ’n padstal op die plaas Reitz in die Vredefort-distrik gesterf het.
Só het landdros Rudie Smith bevind toe hy die verdediging se verweer van putatiewe noodweer aanvaar het.
Die voorval dié aand in Mei 2015 het plaasgevind nadat De Bruyn vanuit sy woning ’n lig in die padstal op die plaas sien brand, en gaan ondersoek instel het. Hy, sy ma en ouma was alleen op die plaas.
De Bruyn wat se mobiliteit deels beperk is, het toe hy die deur na die padstal oopsluit, iemand in Sotho in die padstal hoor praat.
Die skaduwee wat hy in die padstal gesien het, het ook gelyk asof die persoon iets uit sy sak haal en gelyktydig hiermee het die persoon  die lig skielik afgeskakel.
Hierop het De Bruyn sewe skote blindelings afgevuur in die algemene rigting van die persoon, waarvan drie die onbekende man in die padstal getref het.
Hy het op die toneel beswyk.
Die verdediging het aangevoer dat De Bruyn geskiet het omdat hy werklik geglo het sy lewe in gevaar was, juis in ’n  tyd wat plaasaanvalle en beurtkrag aan die orde van die dag was.
Die staat op sy beurt het geargumenteer dat De Bruyn die perke van selfverdediging sou oortree het deur nie net ’n  waarskuwingskoot af te vuur nie, en wegbeweeg het van die gevaar nie.
Uit die getuienis tydens die verhoor was dit egter duidelik dat daar inderdaad by die padstal ingebreek is. Ook uit die ballistiese deskundige, mnr. Wollie Wolmarans se getuienis aan die hand van ’n  sketsplan, ondersteun deur foto’s, is getuig dat die skote nie gemik was nie, maar instinktief afgevuur is vanuit ’n  posisie waar De Bruyn vanweë sy beperkte bewegingsvermoë as gevolg van ’n  mediese toestand, probeer skuiling soek het.
Wolmarans was  ook een van die deskundige getuies tydens die Oscar Pistorius verhoor waar deels soortgelyke omstandighede en putatiewe noodweer ter sprake was.
Die verdediging het ook aan die hand van die tweede deskundige, ’n arbeidsterapeut, me. Leigh Welgemeod, se getuienis in die hof benadruk dat omdat De Bruyn geweet het dat hy nie sou kon weghardloop van die gevaar nie, hy die subjektiewe persepsie gehad het dat dit die einde van sy lewe kon wees.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button