NewsNews

Brandstofprys styg volgende week

Netwerk 24 berig dat ná die daling in die brandstofpryse in April wat veral Paasvakansiegangers gehelp het om hul begroting te laat klop, word ’n skokstyging in Mei verwag. “Dié styging word voor die deur van die onlangse afgradering van Suid-Afrika se buitelandse skuld tot rommelstatus gelê. Petrolpryse kan in Mei met sowat 60c per …

Netwerk 24 berig dat ná die daling in die brandstofpryse in April wat veral Paasvakansiegangers gehelp het om hul begroting te laat klop, word ’n skokstyging in Mei verwag.

“Dié styging word voor die deur van die onlangse afgradering van Suid-Afrika se buitelandse skuld tot rommelstatus gelê.

Petrolpryse kan in Mei met sowat 60c per liter styg en dieselpryse met meer as 40c as die huidige markfaktore die res van die maand voortduur.

Die gemiddelde onderverhaling op petrol was van einde Maart tot Maandag 54,8c, wat beteken motoriste betaal tans 54c per liter te min vir petrol as dit bereken moet word volgens die huidige wisselkoerse en internasionale petrolpryse. Maandag se onderverhaling was reeds op 70c, wat beteken as dit tot die einde van die oorsigtydperk volgehou word, dit ’n gemiddelde onderverhaling van 60c tot gevolg kan hê.

Die brandstofprys word op Woensdag 3 Mei aangepas.

Dieselpryse het tans ’n onderverhaling van 55c tot 56c, en die gemiddelde onderverhaling sedert einde Maart is tussen 30c en 37c per liter.

Die petrolprys aan die kus is R12,81 per liter vir

95-oktaan- loodvrye petrol nadat die prys op 5 April met 25c verlaag is. In Gauteng is 95-oktaanpetrol met 24c tot R13,30 per liter verlaag en 93-oktaanpetrol met 22c tot R13,08 per liter.

Afgradering

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, meen die afgradering het regstreeks bygedra tot die verswakking van die rand teenoor die dollar, wat brandstofpryse sal laat styg.

Suid-Afrika se brandstofpryse word volgens ’n gereguleerde invoerpariteitsformule bereken asof alle brandstof van die buiteland ingevoer word.

Die verhoging van dieselpryse sal volgens Roets ’n onmiddellike impak op bykans alle goedere en dienste hê. Die pryse van alle goedere wat per pad vervoer word, sal styg omdat diesel die hoofbron van brandstof vir padvervoer is.

Roets meen die verwagte brandstofprysverhoging is net die eerste deel van die sneeubaleffek wat die afgradering gaan hê. Stygende werkloosheid en ’n verlangsaming in die ekonomiese groeikoers sal volg namate buitelandse beleggers na elders skuif.

Die rand sal waarskynlik verder teenoor die dollar verswak, wat alles van brandstof tot kos sal raak, sê Roets. Hoewel Suid-Afrika min of meer selfonderhoudend is wat graan betref, word al die insetkoste soos kunsmis, plaagdoders en diesel deur die wisselkoers geraak.

Roets sê verbruikers dra reeds swaar aan ’n totale skuldlas van R1 660 miljard. Sedert begin Januarie was daar volgens hom ’n skerp toename in verbruikers wat skuldverligting opsoek.” (Bron: Netwerk 24)

Related Articles

Back to top button