NewsNews

Troetel jou troeteldier se maagprobleme

Maagaandoenings is een van die algemeenste redes hoekom troeteldiereienaars hulle diere veearts toe neem. Dit is ontstellend as jou beste vriend siek is, en natuurlik is dit ook vir hulle onaangenaam. Hier volg kundige advies om jou te help om jou troeteldier se maagaandoenings hok te slaan, ongeag wat dit veroorsaak. “Diarree en braking kom …

Maagaandoenings is een van die algemeenste redes hoekom troeteldiereienaars hulle diere veearts toe neem. Dit is ontstellend as jou beste vriend siek is, en natuurlik is dit ook vir hulle onaangenaam. Hier volg kundige advies om jou te help om jou troeteldier se maagaandoenings hok te slaan, ongeag wat dit veroorsaak.
“Diarree en braking kom om verskeie redes voor, wat kan wissel van redelik onskadelik tot ernstig,” verduidelik dr. Guy Fyvie, veterinêre raadgewer vir Hill’s Pet Nutrition. “Die mees algemene rede by honde is wanneer hulle iets eet wat hulle nie moet nie. Ander redes sluit in stres, voedselsensitiwiteit, parasiete (soos wurms), bakteriese infeksies en virusse, of chroniese toestande wat insluit pankreatitis, kolitis en inflammatoriese ingewandsiekte.
Dr. Fyvie beveel aan dat jy nie te lank moet wag om jou troeteldier by die veearts te kry met ’n omgekrapte maag nie. “Wanneer diere diarree het en braak, verloor die liggaam water en elektroliete, en die dier kan vinnig ontwater, veral jong diere en kleiner tipes.” Hy beveel aan dat jy die dier goed dophou om die erns van die probleem vas te stel. “Jou troeteldier sal lusteloos raak na net 2% verlies van liggaamsvloeistof, erg depressief na ’n verlies van 5% en die risiko loop om dood te gaan nadat 10% liggaamsvloeistof verloor is.”
Terwyl hoender en rys soms aanbeveel word om omgekrapte mae beter te maak, is dit sinvol om siek diere kos te gee wat klinies bewys is om hulle gesond te maak en hulle vinniger te laat herstel.
“Voorkoming is altyd beter as genesing,” sê dr. Fyvie. “Om jou inentings op datum te hou, jou huis veilig vir jou troeteldiere te maak en voorsorgmaatreëls te tref vir wanneer jy nie daar is nie, verminder die kanse dat jou troeteldier in die eerste plek siek sal word.”
Voorkoming
· Hou jou hond aan ’n leiband om te keer dat hy alles eet wat hy tydens ’n stappie teëkom, veral as hy geneig is om “skatte” uit te snuffel.
· Maak jou huis troeteldierbestand en bêre huishoudelike chemikalieë en gifstowwe buite bereik.
· Sit vullis in ’n vullisdrom waar dit nie uitgegrawe kan word nie.
· Moenie oorskietkos of bene voer nie.
· Maak seker inentings is op datum.
· Voer ’n gesonde, volledige dieet met die korrekte balans van voedingstowwe en antioksidante wat die immuunstelsel ’n hupstoot gee.
· Koop net ’n katjie of hondjie van ’n betroubare teler of diereskuiling en maak seker dat dit ingeënt en ontwurm is (vra vir ’n amptelike inentingsertifikaat).
· Moenie ’n troeteldier wat nie ingeënt is nie na ’n openbare area neem nie, en hou jou dier by die huis as hy siek is om te keer dat hy ander diere besmet.
· Ontwurm gereeld (volgens jou veearts se aanbevelings).
· Voer eerder klein maaltye meer gereeld as om bakke kos neer te sit wat kan sleg word.
· Hou jou erf skoon en tel ontlasting daagliks op. Moenie dit in die gras inwas nie – dit kan die omgewing met wurmeiers besmet wat in die ontlasting uitgeskei word.
Hoewel spysverteringsprobleme alledaags is, moet dit nie geïgnoreer word nie. “Daar is baie moontlike oorsake en dit kan tyd neem om die regte behandeling te kry. Vroeë ingryping kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”
As jou troeteldier met spysverteringsprobleme sukkel, besoek jou veearts vir kundige raad.
Redes vir ’n omgekrapte maag
· Geen diskresie wat kos betref – eet vrot kos of nie-voedsel-items
· Toksiene – medikasie, giwwe of produkte wat giftig is vir diere, soos sjokolade, insekdoders, rotgif, bleikmiddel, sekere soorte kunsmis en sekere plante
· Parasiete, soos wurms
· Voedselsensitiwiteit, -intoleransie en -allergieë
· Bakteriese infeksies en virusse, byvoorbeeld die parvovirus
· Toestande van die spysverteringskanaal, soos pankreatitis, kolitis en inflammatoriese ingewandsiekte
· Siektes soos diabetes of nier- of lewersiekte
· Stres – akute of chroniese stres kan die probleme aan die gang sit
Tekens van maagprobleme
· Braking
· Diarree of sagte stoelgange
· Gewigsverlies
· Verandering in aptyt
· Winderigheid
· Gorrelende maag
· Hardlywigheid
· Skielike onaktiwiteit of depressie
· Soms toon diere ander tekens, soos ’n jeukerige vel of ore

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button