NewsNews

Mozart-werke die naweek in Vredefort gehoor

Op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel is ’n musiekseminaarsentrum, die Koepel Kunstesentrum, waar daar sedert 2008 gereeld musiekkursusse, meestersklasse en konsertprojekte plaasvind – afgesien van ander aanbiedinge soos natuuruitstappies en handwerkseminare. Die fokusgebied van die sentrum is Vroeë Musiek. Klassieke musiek, oftewel ernstige kunsmusiek (om dit van populêre vermaakmusiek te onderskei), het ’n  …

Op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel is ’n musiekseminaarsentrum, die Koepel Kunstesentrum, waar daar sedert 2008 gereeld musiekkursusse, meestersklasse en konsertprojekte plaasvind – afgesien van ander aanbiedinge soos natuuruitstappies en handwerkseminare. Die fokusgebied van die sentrum is Vroeë Musiek.
Klassieke musiek, oftewel ernstige kunsmusiek (om dit van populêre vermaakmusiek te onderskei), het ’n  lang tradisie en het deur die eeue heen verskeie styl- en smaakveranderinge ondergaan, maar ook groot veranderinge wat die rol van musiek in die samelewing betref. In die moderne tyd – vanaf die begin van die vorige eeu – het tegnologie ’n groot rol in die uitvoering van musiek begin speel.
Opnames van uitvoerings het moontlik geword, en konserte was nie meer die enigste manier om musiek te hoor nie. Deur die ontwikkeling van die media en vermaaklikheidssektor het gewilde musiekgroepe groot aanhang gekry en ’n  groot stylonderskeid tussen populêre musiek en kunsmusiek het  ontstaan. In vroeër tye was daar natuurlik ook populêre musiek, maar dit is vir spesifieke geleenthede soos feeste, seremonies of vermaaklikheidsgebeurtenisse deur komponiste geskryf en lewendig uitgevoer.

Op Saterdagaand 1 April word die Ave verum corpus en die Requiem Mis in d mineur van Mozart in die NG Kerk Vredefort uitgevoer. Die Requiem van Mozart is die laaste komposisie van dié komponis en een waarom daar ’n  menigte onopgeloste geheime en bespiegelinge verweef is. Dit was ’n opdragwerk, maar die opdraggewer wou anoniem bly en het ‘n boodskapper aan Mozart gestuur om die besonderhede oor te dra.
’n  Requiem is ’n mis wat tydens die erediens voor die begrafnis uitgevoer word. Die opdraggewer, graaf Franz von Walsegg, wou die musiek tydens die begrafnis van sy vrou uitvoer, maar homself as komponis voordoen.
Terwyl Mozart aan die Requiem werk, word hy egter ernstig siek, en ten tye van sy dood op 5 Desember 1791 het hy minder as twee derdes van die werk voltooi. Om nie die vooruitbetaling en die tweede paaiement te verloor nie, stel sy vrou, Constanze, verskeie ander komponiste aan om dit klaar te maak. Met hoogs interessante musikale speurwerk kon navorsers die bydraes van minstens vier komponiste, wat hierby betrokke was, vasstel. Franz Xaver Süßmayer, ‘n student van Mozart, het die grootste deel van die taak afgehandel en ‘n werk nagelaat wat tot vandag toe bestand het. Die musiekpartituur is aan Walsegg oorhandig, wat dit eers drie jaar na sy vrou se dood kon uitvoer.
Die Requiem word gewoonlik aan die einde van die kerkjaar in die treurmaand November uitgevoer – voor die viering van Jesus se geboorte in die Advent-tyd – of dan voor Paasfees as simboliese dodemis vir die gestorwe Jesus. Wat die komende uitvoerings (in Johannesburg, Pretoria en Vredefort) besonders maak, is dat die werk op die oorspronklike instrumente, soos dit in Mozart se tyd gebruiklik was, uitgevoer sal word, en ook met ‘n klein kamerkoor, soos dit in die destydse omstandighede sou gebeur. Die konserte word deur die Koepel Kunstesentrum, wat sedert 2008 kursusse en projekte in Vroeë Musiek (oftewel histories ingeligte uitvoeringspraktyk) aanbied, in samewerking met St John’s College in Johannesburg aangebied. Die bekende sangsoliste Linelle Engelbrecht, Elizabeth Lombard, Nicholas Nicolaidis en Aubrey Lodewyk werk aan die uitvoerings mee, wat deur Ben Oosthuizen van St. John’s College gedirigeer word.
Antoinette Lohmann, bekende barokvioliste van Amsterdam, voer die orkes aan. Antoinette bied reeds die afgelope agt jaar meestersklasse en konsertprojekte in historiese uitvoeringspraktyk aan, en help met groot geesdrif en sukses om Vroeë Musiek in ons land te vestig. Slegs twee  oorsese instrumentaliste, die klarinettis Teddy Ezra van Switserland, en die fagottis Wolfgang Mücke van Duitsland, is vir die samestelling van die orkes nodig, wat wys hoe ver Vroeë Musiek in Suid-Afrika reeds ontwikkel het. Die res van die strykers en die blasers – ‘n klarinettis, fagottis, drie tromboonspelers, en twee trompetspelers – kom almal uit die geledere van Suid-Afrikaanse musici wat hulle in die afgelope jare intensief met historiese uitvoeringspraktyk bemoei het.
Kaartjies sal by die deur gekoop kan word. Inligting is ook by Gerhard Benadé by 083 280 9784, gerhard@deelfontein.co.za  en op die webwerf www.deelfontein.co.za beskikbaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button