NewsNews

Katgriep: Wat jy moet weet

Parvo enteritis (Katgriep) is weer in omloop en word gewoonlik erger in somerweer. Katgriep is ’n hoogs aansteeklike virus wat honde (veral onder ses maande) aantas. Parvovirus is uiters aggressief en tas die maagdermkanaal aan, veroorsaak braking en ’n bloederige diarree wat lei tot ontwatering, hipotermie, toksemie en uiteindelik die dood. Hele werpsels kan uitgewis …

Parvo enteritis (Katgriep) is weer in omloop en word gewoonlik erger in somerweer.
Katgriep is ’n hoogs aansteeklike virus wat honde (veral onder ses maande) aantas. Parvovirus is uiters aggressief en tas die maagdermkanaal aan, veroorsaak braking en ’n bloederige diarree wat lei tot ontwatering, hipotermie, toksemie en uiteindelik die dood. Hele werpsels kan uitgewis word.
Behandeling is duur en slegs ondersteunend, aangesien niks die virus self kan dood-maak binne die liggaam nie. Baie honde oorleef met behandeling, maar ongelukkig nie almal nie. Sekere honderasse (soos Rottweilers en Dobermans, onder andere is besonder vatbaar, en honde wat geen inentings gehad het nie, is beslis dié wat die swakste kanse vir oorlewing het.
Die Parvo virus besmet ook die omgewing. ’n Besmette erf bly vir baie jare besmet.
Katgriep vat omtrent 7-10 dae na blootstelling voor die diertjies siek word. As jy ’n siek hondjie het, kyk terug waar hy 7-10 dae gelede was; dit gee jou ’n goeie idee hoe/waar die hondjie katgriep gekry het.
Die antwoord lê hoofsaaklik in die voorkoming van die siekte:
* Wees versigtig waar jy hondjies koop; maak seker dat daar geen geskiedenis van katgriep is nie.
* Verkopers wat handel of ‘smous’ in klein hondjies, dra ’n hoë risiko weens die hoë omset van diere en die verhoogde risiko van blootstelling.
* Indien jy uit goedheid hondjies optel om hulle te help of te red, is daar ’n werklike risiko vir jou honde by die huis. Baie keer word die nuweling eers na ’n paar dae in sy nuwe huis siek. Teen daardie tyd is die huis se ou inwoners blootgestel aan die virus.
* Inenting speel die grootste rol in voorkoming.
* Groot honde moet jaarliks ingeënt word.
* Teeltewe moet jaarliks ingeënt word om immuniteit aan hulle babahondjies deur hulle bies oor te dra aan die klein hondjies wat hulle vir die eerste 4-6 weke van hulle lewe beskerm.  Die inenting moet verkieslik buite die dragtigheid gegee word.
* Klein hondjies moet ten minste een keer ingeënt wees voor aankoop, verkieslik deur ’n veearts en verkieslik reeds op die ouderdom van ses weke en verkieslik ten minste een week voor aankoop. Eerste inentings later as ses weke open jou venster vir vatbaarheid.
* Enige entstof vat ’n tyd om te werk, d.w.s. honde wat vandag ingeënt is, is nie môre al immuun nie.
Katgriep se inkubasieperiode is 7-10 dae. As hondjies vandag ingeënt word, maar reeds blootgestel is, of binne ’n dag of drie by die nuwe eienaar blootgestel word, gaan hulle waarskynlik siek word omdat die entstof nog nie “ingeskop” het nie.
* Indien jy al katgriep op jou erf gehad het, behoort klein hondjies wat jy verkoop reeds op vier weke ’n addisionele enting te ontvang.
* Indien jy ’n  babahondjie na ’n  besmette erf bring, moet die hondjie ten minste twee maar verkieslik drie inentings reeds ontvang het en eers een week na die laaste inenting op die besmette erf kom.
* “Die hondjie het al sy entings gehad” beteken gewoonlik dat die diertjie een inenting ontvang het voor verkoop. Kopers besef nie altyd dat skraagdosisse noodsaaklik is nie. Raadpleeg jou veearts om die regte inligting te kry wanneer jy die hondjie koop, nie eers wanneer hy/sy reeds siek is nie.
* Die omgewing en mense moet ontsmet word indien daar blootstelling was. Raadpleeg asseblief jou veearts aangesien nie alle skoonmaakmiddels effektief is teen die Parvo virus nie.
Hierdie siekte is ’n  baie wrede een en ons in Parys is beslis nog nie naby daaraan om dit onder beheer te kry nie. Elkeen van ons wat sy/haar honde inent, kan  ’n  waardevolle bydrae lewer (Saamgestel deur dr. Brigitta Wessels, Parys Dierehospitaal).

Related Articles

Back to top button