NewsNews

Kabeldiefstal en onwettige koppeling ’n groter probleem

“Alvorens enige afbetalingsmaatreëls of alternatiewe oorweeg word, sal munisipaliteite eers die miljoene rand se elektrisiteitsverliese weens kabeldiefstal en onwettige koppelings moet aanspreek.” Só sê Wouter Wessels VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, oor die geweldige krisis ten opsigte van uitstaande skuld aan Eskom.

“Alvorens enige afbetalingsmaatreëls of alternatiewe oorweeg word, sal munisipaliteite eers die miljoene rand se elektrisiteitsverliese weens kabeldiefstal en onwettige koppelings moet aanspreek.”  Só sê Wouter Wessels VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, oor die geweldige krisis ten opsigte van uitstaande skuld aan Eskom.
Eskom, die departement van samewerkende regering (COGTA) en sekere munisipaliteite het Vrydag voor die openbare rekeninge komitee van die Vrystaatse Wetgewer verskyn oor die munisipaliteite in die Vrystaat se reuse Eskom-skuld.Verskeie munisipaliteite, soos Nketoana en Ngwathe kon reeds nie betalingsooreenkomste nakom nie, sê hy.  Die Moqhaka munisipaliteit wat Kroonstad, Steynsrus, Viljoenskroon en Vierfontein insluit, het ook aangedui dat hul nie geld het om die ooreengekome bedrag van R18,9 miljoen te betaal nie. Eskom het met sekere voorstelle vorendag gekom wat deur ’n nasionale goedkeuringsproses moet gaan voor dit geïmplementeer kan word. Wessels het gesê hierdie voorstelle word verwelkom, alhoewel dit slegs werkbaar sal wees ten opsigte van munisipaliteite se huidige en toekomstige skuld.
Hy het gesê dat munisipaliteite en Eskom sal moet aanvaar dat historiese skuld wat miljarde rand beloop waarskynlik nooit ingevorder sal kan word nie. “Munisipaliteite sal nie eers hul historiese skuld kan delg met die totale billike aandeel wat van die provinsiale regering ontvang word nie, aangesien daar dan geen bedryfskapitaal vir dienslewering sal wees nie.” Wessels sê COGTA se mening is onwaar dat besighede verantwoordelik is vir munisipaliteite se hoë uitstaande skuld,  aangesien die grootste bydrae tot die uitstaande skuld die munisipaliteite se onvermoë is om debiteure in te vorder, asook wanbetalende verbruikers, en historiese verbruikerskuld van miljoene.
Elektrisiteitsverliese weens onwettige koppelings en kabeldiefstal speel ook ʼn groot rol. Daar is ook gevalle soos dié wat voor die komitee gedien het van munisipaliteite wat verbruikers se betalings ontvang, maar vir maande en selfs jare niks aan Eskom oorbetaal nie. Die hoogste bedrag verskuldig aan Eskom in Suid-Afrika is R1,8 miljard deur Maluti-a-Phofung (Witsieshoek, Kestell, Phuthaditjhaba en Harrismith), gevolg deur Matjhabeng (Welkom, Ventersburg, Allanridge, Virginia, Odendaalsrus en Hennenman) met R1,2 miljard. Hierdie twee munisipaliteite het nie opgedaag vir hulle verskyning voor die komitee nie.
Wessels het gesê dit is betreurenswaardig dat slegs drie van die agt munisipaliteite wat genooi is opgedaag het. “Dit is duidelik dat Eskom bereid is om toegewings te maak maar geen maatreëls sal werk as bestuur op munisipale vlak nie verantwoordelikheid neem nie.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button