NewsNews

Aanneemkinders in die voëlryk

Die plasing van kinders in pleegsorg is nie beperk tot die menslike samelewing nie. Sekere voëlspesies gee hulle kinders op vir aanneming, maar sonder die toestemming of selfs die medewete van die pleegouers. Hierdie verskynsel is bekend as parasitiese broeigewoonte (brood parasitism).

Die plasing van kinders in pleegsorg is nie beperk tot die menslike samelewing nie.
Sekere voëlspesies gee hulle kinders op vir aanneming, maar sonder die toestemming of selfs die medewete van die pleegouers. Hierdie verskynsel is bekend as parasitiese broeigewoonte (brood parasitism).
Die Koekoek-familie van voëls is ’n voorbeeld van voëlspesies wat op ander – gasheer  voëlspesies parasiteer. In die praktyk kom dit op die volgende neer: Die parasietspesie se wyfie kyk uit vir ’n  potensiële gasheer se nes en wag dan in die nabyheid. Wanner die gasheer die nes vir ’n wyle verlaat, glip sy in en lê binne sekondes haar eier en vlieg weg om nooit weer terug te keer nie.
Met die terugkeer na die nes, kan die gasheer, mannetjie/wyfie, nie onderskei tussen hulle eie eiers en die parasieteier (vir hierdie bespreking die Koekoek se eier) nie en so word die eier uitgebroei en die kleintjie grootgemaak.
Die dop van die Koekoek se eier is ook harder sodat dit nie maklik breek as dit in die gasheer se nes gelê word nie. Die parasietvoël se eier broei gewoonlik vinniger uit as die van die gasheer en die kleintjie groei ook vinniger.
Hierdie parasietkuiken het ’n voorsprong omdat hy groter en sterker as die gasheerkuikens is en hy sal alles wat saam met hom in die nes is uitboender, hetsy dit eiers of klein voëltjies is.
Andersins kompeteer hy so sterk om kos by die voerende pleegouers, dat hy alleen al die kos kry en die ander kuikens van honger doodgaan.
Van die veertien Koekoek-spesies wat in Suider-Afrika voorkom, is daar ses wat ook in ons gebied algemene somerbesoekers is. Hulle is almal parasietbroeiers.
Die naam parasietbroeiers kan egter misleidend wees, want al wat hulle doen is paar en eiers lê. Hulle broei nooit hulle eie eiers uit of maak hulle eie kleintjies groot nie. Dit is die funksie van die gasheervoëls.
Deur nie nodig te hê om nes te bou, eiers uit te broei en kleintjies groot te maak nie, stel dit hierdie voëls in staat om hulle energie te gebruik om meer eiers te produseer en sodoende ’n groter nageslag te verseker.
Sommige spesies is op rekord dat een wyfie ’n  ongelooflike 26 eiers in een broeiseisoen kan lê, in verskillende gasheerneste, een eier per nes.
Die twee mees algemene spesies wat in die Vredefort Koepelgebied voorkom, is die Piet-My-Vrou en die Diederikkoekoek.
Ons hoor hulle kenmerkende roepe aldeur die somer in ons gebied. Hulle het ook albei hulle Afrikaanse name te danke aan hul besondere roepe, wat ’n nabootsing van hulle roepe is.
Albei parasiteer op meer as een gasheerspesie. Elke spesie het sy eie unieke manier om sy gasheerspesie te flous, want hulle moet die gashere wat hulle broeigebiede agressief verdedig, kan uitoorlê.
Dit is op rekord dat die Diederik tot soveel as 24 gasheerspesies kan hê. Hier by ons is die Diederik se gashere meesal die swartkeelgeelvink, gewone mossie en kwikkie.
Die Piet-My-Vrou se gashere in ons omgewing is meesal die janfrederik, kwikkie en geelbeklyster.
As jy dus in jou tuin van ons gewone tuinvoëltjies sien wat besig is om ’n voël te voer wat nie soos hulle lyk nie en omtrent driekeer so groot soos hulle is, dan is dit heel waarskynlik ’n  jong Diederik of Piet-My-Vrou wat deur hulle uitgebroei is. Hulle sal hom getrou bly voer totdat hy oud genoeg is om onafhanklik vir homself te kan sorg.
Hierdie twee spesies is Intra-Afrika trek-voëls, wat beteken dat hulle migrante is wat ons gebied gedurende die somer besoek.
Ons begin hulle gedurende September op merk en aan die einde van Februarie tot in Maart verdwyn hulle. Dit is dan wanneer hulle wegtrek om in Tropiese Afrika te gaan oorwinter. Dit is interessant dat die jongvoëls wat hier in Suid-Afrika deur pleegouers uitgebroei en grootgemaak is, aan die einde van die somer self, sonder enige ouerleiding, ook migreer na Sentraal-Afrika.
*Die foto’s hierby is verkry van Google Images.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button