NewsNews

Potchefstroom gemeenskap kan die geliefde Eikelaan red

Erfenis Potchefstroom sê die enigste manier hoe die eikelaan in Potchefstroom kan oorleef, is as die gemeenskap verantwoordelikheid vir die instandhouding daarvan neem. Hulle vra dat eienaars van eiendomme waarlangs die bome staan, ook kan help deur te verseker dat die bome genoeg water kry en deur nie onder die bome te plavei nie.

'n Eikeboom oorkant die rektorswoning se takke is een vir een besig om af te breek. Foto: Marianke Saayman

‘n Eikeboom oorkant die rektorswoning se takke is een vir een besig om af te breek. Foto: Marianke Saayman

Potchefstroom Herald het verlede week oor die eikebome in Potchefstroom wat besig is om dood te gaan, berig.
Hierdie is ‘n groot bekommernis vir nie net die gemeenskap nie, maar ook vir die munisipaliteit omdat dié bome deel is van Potchefstroom se erfenis. Daar is verskeie faktore wat tot die sterftes van die eikelaan bydra, maar soos voorheen berig is, kan die oorblywende bome wel gered word.
Bert Ubkink, kurator van die Botaniese tuin van 1988 tot 1990 het destyds al ondersoek ingestel na die toestand van die eikelaan. Volgens hom was die resultaat dat daar ‘n dieper ondersoek nodig was om die oorsake en oplossings te soek. In 1991 het die stadsraad begroot vir navorsing van die bome om voort te gaan en Ubkink is versoek om die navorsing te koördineer. Volgens Ubkink het hulle baie hard gewerk om in 1995 ‘n studieverslag aan die stadsraad te oorhandig.
“Die oproep vir ‘n in-diepte-ondersoek soos gevra in die Herald van 26 Januarie, is dus reeds in 1995 afgehandel,” sê Ubkink. Hoewel die parke-afdeling van die aanbevelings opgevolg het, het daar na die eerste pogings geen verdere versorging van die eikelaan plaasgevind nie.

“Dit sal ‘n moeilike taak wees om die eikelaan te red, maar dit is nie onmoontlik nie,” sê Ubkink.

Die Herald het die afgelope week baie belangstelling in die eikelaan gesien. David Halliday van Noord-Ierland lees al vir jare die artikels van die Herald aanlyn, en het besluit dat hy ook wil help. Halliday sê dat hy die departement van landbou in sy tuisdorp Port Rush wil nader om akkers van Noord-Ierland na Potchefstroom te stuur om nuwe eikebome te help plant. Halliday het sowat 30 jaar gelede akkers geplant by ‘n skool in Dervock wat nou so hoog soos twee verdieping huise staan. Verder het Erfenis Potchefstroom Maandag ‘n vergadering gehou om die eikelaan kwessie te bespreek.
“Potchefstroom Erfenis is diep besorg oor die welstand van die eikebome in die historiese eikelaan van Potchefstroom,” sê hulle. Volgens Erfenis Potchefstroom was daar 710 bome toe die laan in 1977 as historiese gedenkwaardigheid verklaar is.
Daar is nou slegs 530 bome oor. Volgens Erfenis Potchefstroom is daar in die verlede verskeie projekte deur die stadsraad aangepak om die bome aan die lewe te hou, maar die projekte kon nie die voortbestaan van die laning verseker nie.
“Heritage Potchefstroom Erfenis meen dat die versorging en instandhouding van die eikebome ook die verantwoordelikheid van elke inwoner van die stad is. Ons kan nie die verantwoordelikheid eenvoudig op die stadsraad alleen afskuif nie. Dit is uiteraard tog ons stad, waar ons woon en werk.”
Erfenis Potchefstroom sê die enigste manier hoe die eikelaan kan oorleef, is as die gemeenskap verantwoordelikheid vir die instandhouding daarvan neem. Hulle vra dat eienaars van eiendomme waarlangs die bome staan, ook kan help deur te verseker dat die bome genoeg water kry en deur nie onder die bome te plavei nie.

’n Vergadering word op 15 Februarie om 18:00 in die Hoofmuseum in Sol Plaatjies-rylaan gehou. Skakel Danell de Wet by 083 751 7336 as u die vergadering gaan bywoon.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button