NewsNews

Dis groot lepel skep vir die groot jaffelbak

Die vleis is geweeg - ’n hele 315kg. Die brode getel - niks minder nie as 520. Die somme gemaak en 4 000 jaffels moet daar wees vir vanjaar se groot jaffelbak by die NG gemeente Parys-Oos. Maar ’n man moet meer as somme kan maak en beplan as daar soveel gewillige hande is wat jaarliks regstaan vir die groot broodsmeer en panne beman. Dit is benoude oomblikke die drie dae van harde werk - daarvan kan Sarel de Jager, gemeentebestuurder van die Oos-gemeente jou vertel. Die probleem kom by die skeppers, skerts hy met ’n vonkel in die oog, want die lepel word swaar gelaai om seker te maak elke jaffel is elke rand wat daarvoor betaal word, hap vir hap, die moeite werd. Dit is daardie einste rojale skeplepels wat die jaffels laat bult van die vleis en wat maak dat Sarel sy somme weer en weer moet maak. Oor die jare het die jaffels al so gewild geword dat daar behoorlik gestoei moet word om voor te bly om te bak vir al die bestellings wat gekry word. Nie ’n enkele jaffel bly oor nie.

Die vleis is geweeg – ’n  hele 315kg. Die brode getel – niks minder nie as 520. Die somme  gemaak en 4 000 jaffels moet daar wees vir vanjaar se groot jaffelbak by die NG gemeente Parys-Oos. Maar ’n man moet meer as somme kan maak en beplan as daar soveel gewillige hande is wat jaarliks regstaan vir die groot broodsmeer en panne beman. Dit is benoude oomblikke die drie dae van harde werk – daarvan kan Sarel de Jager, gemeentebestuurder van die Oos-gemeente jou vertel.
Die probleem kom by die skeppers, skerts hy met ’n vonkel in die oog, want die lepel word swaar gelaai om seker te maak elke jaffel is elke rand wat daarvoor betaal word, hap vir hap, die moeite werd. Dit is daardie einste rojale skeplepels wat die jaffels laat bult van die vleis en wat maak dat Sarel sy somme weer en weer moet maak. Oor die jare het die jaffels al so gewild geword dat daar behoorlik gestoei moet word om voor te bly om te bak vir al die bestellings wat gekry word. Nie ’n  enkele jaffel bly oor nie.
Die jaffelverkope van die afgelope week, en pretdag wat Saterdag 4 Februarie by die Parys-vliegveld gehou word, vorm deel van die gemeente se jaarlikse bydrae vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Harde werk, gebed en toewyding wat dit moontlik maak om elke jaar ’n  bydrae te kan gee om Bybels steeds bekostigbaar te hou vir elkeen wat die Woord wil lees.
Die Bybelgenootskap verkoop Bybels vir minder as die koste om ’n Bybel te druk. Danksy pogings soos hierdie kan die Bybelgenootskap egter steeds voortgaan met die groot taak om Bybels in alle tale vir elkeen wat wil lees, beskikbaar te stel teen ’n prys wat jou sak pas.
Jy kan die pretdag Saterdag ondersteun en ook só jou bydrae lewer deur saam te kom stap, draf, fietsry of perdry. Afstande wissel van 2km tot 14km. Niemand is té oud of te onfiks om te kom deel in die pret nie. Die dag begin om 07:00 maar vir hulle wat vroegdag weer by die werk moet wees, is daar selfs geleentheid om 06:00 al te kom deelneem.

Related Articles

Back to top button