NewsNews

Eikelaan sterf

Potchefstroom se historiese Eikelaan is besig om ‘n stadige dood te sterf.

boom en akker

Potchefstroom se historiese Eikelaan is besig om ‘n stadige dood te sterf.
Verskeie inwoners het die afgelope tyd dit onder die Herald se aandag gebring dat verskeie van die bome in die laning, ’n nasionale monument, besig is om dood te gaan.

girl boom
Die laning, wat by Potchefstroom dam begin en by die landboukollege eindig, is 6,84 km lank en is die langste eikelaning in die suidelike halfrond.
Die eerste eikebome wat deel van die laan vorm is reeds in 1863 geplant.
Kommer oor die toestand van die bome het reeds in 1972 begin toe leiwater gestaak en die leiwatervore, wat onder meer langs die bome verbygeloop het, in onbruik verval het.
Die gevolg was dat die bome daarna byna net van reënwater afhanklik was. Weens ontwikkeling op veral die Bult het teeroppervlaktes en plaveisel ook veroorsaak dat reënwater vinnig weggelei word na stormwaterstelsels en reënwater skaars om die bome die grond kon binnedring.
Volgens prof. Sarel Cilliers, plant-ekoloog aan die NWU se Potchefstroomkampus, is die bome dus onder geweldige waterstres en boonop rig dopluise en loopluise ook baie skade aan.
Hy meen om die Eikelaan te red moet daar eers in diepte navorsing gedoen word. Dít verg fondse wat nie op die oomblik beskikbaar is nie. ‘n Gesamentlike poging van die publiek gaan nodig wees.
Volgens Willie Maphosa, woordvoerder van die stadsraad, is die munisipaliteit net so bekommerd oor die bome omdat dit ‘n groot rol speel in die stad se toerisme en ekonomie.
Maphosa sê dat van die bome baie oud is en vervang moet word met jonger bome, maar dit is moeilik om die bome plaaslik te verkry.
“Die munisipaliteit is besig om aandag hieraan te gee. Die voorlegging van planne vereis dat die Parke-afdeling eers die bome moet inspekteer en monitor,” sê hy. Maphosa sê die munisipaliteit werk ook daaraan om die Eikelaan Forum (‘n groep vrywilligers van die NWU en die gemeenskap met ‘n liefde vir bome) weer aan die gang te sit omdat hulle ‘n groot rol speel in die bewaring van hierdie bome.
“Die munisipaliteit sal dit nie op hul eie kan aanpak nie,” sê hy.
Erfenis Potchefstroom hou Maandag 30 Januarie ’n vergadering met die oog op ‘n bewusmakingsprojek om die eikelaan te probeer red. Hoewel dit moontlik reeds te laat is vir van die bome, kan iets hopelik gedoen word om die Eikelaan vir die nageslag te behou.

Related Articles

Back to top button