NewsNews

Baie warm vergadering van raadskomitees

Senior munisipale amptenare van Ngwathe moes Maandag opnuut deurloop onder skerp kritiek deur die burgemeester, asook verskeie raadslede. Dit was op ’n gesamentlike vergadering van die Raad se Uitvoerende en Finanskomitees.

Senior munisipale amptenare van Ngwathe moes Maandag opnuut deurloop onder skerp kritiek deur die burgemeester, asook verskeie raadslede.
Dit was op ’n  gesamentlike vergadering van die Raad se Uitvoerende en Finanskomitees.
Die komitees was byeen om die halfjaarlikse begrotingsaanpassings onder
die loep te neem vir bespreking en goedkeuring deur die volle Raad Woensdag (gister).
Die agenda daarvoor, met ondersteunende verslae en tabelle, is egter eers op die laaste oomblik aan raadslede uitgedeel, sommige selfs terwyl die vergadering reeds aan die gang was.
Dit was blykbaar te erg vir burgemeester Joey Mochela.
“Why are you late?” het sy by herhaling gevra. “You don’t take your jobs or your duties seriously,” het sy aan senior amptenare gesê.
Haar kritiek het sterk steun van raadslede van alle partye ontvang.
Raadslede was ook ontevrede oor die swak gehalte van die dokumente wat hulle ontvang het.
“Daar was syferbalanse wat nie geklop het nie, optelfoute, en twyfelagtige aannames,” het DA-raadslid, Arnold Schoonwinkel aan Gazette gesê.
Raadslid Victoria Ntobeni (ANC) het daarop gewys dat inkomste voorsien word ten opsigte van die biblioteke en verkeersboetes, terwyl sowel die biblioteke as die verkeersdepartement nou na die provinsie oorgedra is.
Rdl. Phillip van der Merwe (VF+) het aangetoon dat aspekte van die dokumentasie strydig is met finansiële bestuurswetgewing vir munisipaliteite.
“Dit is onvolledig, teenstrydig, eintlik ‘n mors van tyd.”
Na ‘n lewendige bespreking van bykans vier uur lank is die item na die volle Raad verwys.
Raadslede was ook ontevrede omdat die munisipale jaarverslag nog nie gereed is nie.
“Die jaarverslag word volgens wet elke jaar voor of op 31 Januarie deur die burgemeester ter tafel gelê,” sê rdl. Schoonwinkel.
Hy sê dit is ’n uiters belangrike dokument.
“Dit bevat onder meer die finansiële jaarstate, die ouditeur-genreaal se opinie, en sy insiggewende bevindings en aanbevelings.”
Raadslede vrees die jaarverslag gaan vanjaar weer laat wees.
“So iets sou weer eens uiters swak reflekteer op munisipale amptenare,” sê rdl. Van der Merwe.
Intussen was daar geen verdere nuus oor Ngwathe se skuldkrisis by Eskom nie.
Die munisipaliteit het ‘n afbetaalplan ten opsigte van sy agterstallige skuld aan Eskom voorgestel.
Met Gazette se ter perse gaan was Eskom se reaksie nog onbekend.
Die munisipale bestuurder, in samewerking met die burgemeester se taakspan oor Eskom, ondersoek ook nog die moontlike oordrag van elektrisiteitsverspreiding in Ngwathe na Eskom (soos bering in Parys Gazette, 19 Januarie 2017).

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button