NewsNews

Skryfbehoeftes maak ’n verskil vir ’n kind

Terwyl duisende leerlinge vol opgewondenheid en met blink nuwe skoolklere, skryfbehoeftes en ’n kosblik vol lekkernye die skooljaar begin, is daar hulle, ook hier in Parys wat sonder ’n tas, skryfbehoeftes of selfs ’n kosblikkie in die hand die klaskamer moet instap.

Terwyl duisende leerlinge vol opgewondenheid en met blink nuwe skoolklere, skryfbehoeftes en ’n  kosblik vol lekkernye die skooljaar begin, is daar  hulle, ook hier in Parys wat sonder ’n  tas, skryfbehoeftes of selfs ’n  kosblikkie in die hand die klaskamer moet instap.
’n  Harde seer realiteit vir kinders so jonk as 6 jaar wat weens nood ’n deel van die uitsien en vreugde van ’n  eerste skooldag mis.
Helpende Hand se Skooltassieprojek is sedert 2007 een van die organisasie se belangrikste projekte. Deur dié projek is reeds meer as 30 000 skooltasse vol skryfbehoeftes uitgedeel om behoeftige graad eens te help om op gelyke voet met hul klasmaats te begin.
’n  Studie van Solidariteit wat beantwoord is deur onderwysers uit die 158 skole landwyd wat by die Skooltassieprojek baat, toon duidelik dat daar ’n verband is tussen armoede en swak akademiese prestasie.
Een van die grootste hindernisse wat behoeftige leerders in die gesig staar, is die stres wat ondervind word as hulle nie die regte – of selfs geen – skryfbehoeftes het nie. Hiervan kan ook onderwysers by plaaslike skole getuig.
Onderwysers het aangedui dat hierdie leerders nie kan fokus in die klas nie en dat hulle selfvertroue ook ’n groot knou kry. Wanneer ’n leerder stres ervaar, nie fokus nie en nie die nodige selfvertroue het nie, lei dit tot ’n agterstand en veroorsaak dit dikwels dat die leerder akademies uitsak.
Onderwysers meen dat leerders reeds van so vroeg as die Grondslagfase bewus is van verskillende ekonomiese vlakke en dat hulle deur medeleerders gespot word. Die tekort aan skryfbehoeftes het gevolglik ’n negatiewe effek op die sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling van die behoeftige leerder.
Die situasie word vererger deurdat baie van die behoeftige leerders nie genoegsame ondersteuning tuis ontvang nie, is gevind uit die studie.
Hierdie leerders kom ook baie keer uit gebroke huise. Die studie het verder aangedui dat sou die leerder uitsak of agter raak met hulle skoolloopbaan, hulle die agterstand baie moeilik inhaal. In baie gevalle is dit hierdie leerders wat nie tot matriek in die skool bly nie, maar iewers langs die pad uitsak.
Die baie eenvoudige daad om tasse vir behoeftige leerders te gee het dus verreikende gevolge vir die leerders. Hulle het nou die nodige skryfbehoeftes en ervaar nie meer die stres en angstigheid wat hulle daarsonder sou gevoel het nie.
Die Skooltassieprojek is nou in sy tiende jaar en vanjaar word 4 600 skooltassies aan behoeftige kinders oor die land heen uitgedeel. Gazette het verlede week ook berig oor die skenking wat by Parys Primêre skool gedoen is.
Jy kan die kinders in jou area ondersteun deur die woord “Tassie” te SMS na 38969 en betrokke te raak by die projek. ’n SMS kos R10.
Vir meer inligting, kontak Margolé Riekert, Skooltassie se projekorganiseerder, op 082 715 0508 of stuur ʼn e-pos na margole@helpendehand.co.za. Jy kan ook Naomi Attwell, die plaaslike Solidariteit verteenwoordiger skakle by 072 424 2713 of by 083 356 5132.
As jy groter tasse vir ouer kinders of ’n  ander skenking wil maak, kontak jou plaaslike skole en hoor waar jy kan help.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button