NewsNews

Eskom gaan Ventersdorp se krag vir sekere tye afsit

Inwoners van Ventersdorp gaan van 16 Januarie af vir ongeveer vier ure per dag sonder elektrisiteit moet klaarkom.

ventersdorp

Inwoners van Ventersdorp gaan van 16 Januarie af vir ongeveer vier ure per dag sonder elektrisiteit moet klaarkom.
Dit nadat die munisipaliteit nie ’n bevredigende ooreenkoms met die kragvoorsiener oor die ongeveer R50 miljoen se skuld kon aangaan nie. Die krag sal gedurende die week van 06:00- 08:00 en 17:00-19:30 af wees, ook oor naweke tussen 08:30-11:00 en 15:00-17:30.
Volgens ’n betroubare bron het Ventersdorp in November slegs R214 000 op belegging gehad, terwyl hulle bankbalans R403 000 was. Dit terwyl hulle skuld al ongeveer R90 miljoen beloop, waarvan R71 miljoen al vir meer as ’n jaar verskuldig is.
Die burgemeester, Kgotso Khumalo, het by verskeie geleenthede gesê dat die samesmelting met Ventersdorp nie die gemeenskap van Tlokwe negatief gaan beïnvloed nie.
Hy het voorgeneem om ekstra fondse by die nasionale- en provinsiale tesourie te verkry om te help met die kostes verbonde aan die samesmelting. Volgens Victor Boqo, woordvoerder van die burgemeester, word Eskom tans betaal met geld wat deur die nasionale tesourie aan munisipaliteite gegee word.
“Daar is ‘n bedrag van R34 miljoen se dienstegeld nog verskuldig aan Ventersdorp. Ons is besig om kennisgewings te stuur aan die mense om te betaal, anders word hulle dienste, insluitend elektrisiteit, opgeskort,” het Boqo gesê. Neels Coetzer, hoofsweep van die DA in NW 405, sê hulle het al in Julie beswaar gemaak teen die voorgestelde samesmelting, veral omdat die finansiële gevolge nie in ag geneem is nie. Volgens dié dokument is daar geen vooruitsig van samesmelting sonder dat die Tlokwe munisipaliteit se vermoë om hulle eie dienslewering-uitdagings te oorkom erg belemmer word nie.
“Dit is so helder soos daglig dat die ANC hierdie samesmelting om politiese redes gedryf het en dat die ekonomiese risiko’s geensins in ag geneem was nie”, sê Coetzer

Related Articles

Back to top button