NewsNews

Matrieks val deur die krake van SA se onderwysfondasie

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) se SOS-verslag oor die 2016 Senior Sertifikaat-eksamen toon dat alles nie wel is met die vlak van onderwys in die land nie.

 

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) se SOS-verslag oor die 2016 Senior Sertifikaat-eksamen toon dat alles nie wel is met die vlak van onderwys in die land nie.

Volgens die verslag het daar sedert die begin van 2016 tot en met die matriekeksamen aan die einde van die jaar 13% van matrieks weggeraak en nie die finale eksamen geskryf nie. Dit is nadat die matrieks aan die begin van die jaar geregistreer het om die eksamen te skryf. Daarby het 13% die eksamen as deeltydse studente afgelê. Daar het dus slegs 74% van die matrieks voltydse onderrig ontvang.

“Ons kinders is besig om deur die krake te glip,” sê Hugo Vermeulen, hoof van die Skoleondersteuningsentrum. “Nie die muur se krake nie, die fondasies se krake. Hulle maak nie skool klaar nie en gooi hulle toekoms weg. Geen onderwysdepartement kan tevrede wees met ʼn sisteem waar ʼn kwart van ons kinders hulle matriek druip nie.”

Die SOS het ʼn volledige ontleding van die 2016-uitslae gedoen en het onder andere ʼn Top-20-lys van skole met die meeste onderskeidings in Wiskunde, Afrikaans Huistaal, Fisiese Wetenskap en Rekeningkunde opgestel. Hierdie vakke is nodig vir skaars studierigtings wat in die toekoms baie gesog gaan wees.

Wiskunde is die grootste bron van kommer aangesien nie minder nie as 66,5% van matrieks nie 40% in die vak kon behaal nie. Die SOS voel sterk dat vaardighede in Wiskunde van kardinale belang is. “Wiskunde leer kinders om probleme op te los,” sê Vermeulen. “En dit is kritiek vir die toekoms van ons land.”

Die persentasie kandidate wat Wiskunde neem, het met 2,7% toegeneem vanaf 2015. Dit toon ʼn redelike konstantheid sedert 2012. Die nasionale visie om meer Wiskunde-matrikulante te lewer, is persentasiegewys nie juis suksesvol nie.

In teenstelling met die nasionale slaagsyfer van 72,5% is die slaagsyfer by Afrikaans Huistaal-skole 89,9%. Volgens Vermeulen bewys hierdie statistieke dat Afrikaanse skole uitstekend presteer en steeds vir Afrikaanse leerders ’n opvoedkundige tuiste skep. In hierdie skole word die suksesvolle afhandeling van ’n skoolloopbaan amper gewaarborg.

Afrikaans Huistaal-skole behaal 20,9% van die toelatings tot B-graadstudies, terwyl hulle net 10,6% van alle hoërskole in Suid-Afrika uitmaak.

“Wanneer ons kyk na presteerskole se aantal onderskeidings in Wiskunde, Rekeningkunde en Fisiese Wetenskap, word dit duidelik dat vyf van die top-sewe skole  Afrikaans Huistaal-skole is,” sê Vermeulen. Hierdie skole is Hoërskool Menlopark, Paul Roos Gimnasium, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoër Meisieskool Bloemhof en Afrikaanse Hoër Seunskool.

Related Articles

Back to top button