NewsNews

Tuinier familie se held na hy kleuter red

“Daar was nie tyd om te dink nie, al was ek self bang, moes ek hom uit die water kry.” So vertel Piet “Buti” Makaudi, oor die dag toe hy Michael Oosthuizen (3) se lewe gered het.

Michael Oosthuizen saam met Piet Makaudi wat hom uit die swembad gehaal het.

Michael Oosthuizen saam met Piet Makaudi wat hom uit die swembad gehaal het.

“Daar was nie tyd om te dink nie, al was ek self bang, moes ek hom uit die water kry.”
So vertel Piet “Buti” Makaudi, oor die dag toe hy Michael Oosthuizen (3) se lewe gered het.
Charmaine Oosthuizen, Michael se ma wat op kraamverlof is, kom van Pretoria af, maar kuier by haar ma-hulle op ‘n kleinhoewe in die Muiskraal-omgewing.
Volgens haar was hulle Vrydag 18 November buite en Makaudi was besig om aan die besproeiing in die erf te werk.
“Michael het deur die sproeiers gehardloop. Ek het gou binne toe gegaan om my swemklere aan te trek sodat ons aan die swembad kon werk,” vertel sy.

Charmaine Oosthuizen saam met haar kinders, Cindi-Lizè, Michael en Piet wat haar seun gered het. Foto’s: Dustin Wetdewich

Makaudi het na die stoor toe geloop om gereedskap te gaan haal, toe hy ‘n plonsgeluid hoor. Volgens hom het hy gedink dat Michael besig was om goed in die water te gooi. Toe hy om die draai kom om te kyk wat aan die gang is, het hy klein Michael in die swembad gekry.
“Ek kan self nie swem nie, so ek was baie bang gewees. Daar was nie tyd om sy ma te roep nie, hy het dadelik hulp nodig gehad. So ek het ingeloop om hom uit te haal,” vertel hy.
Volgens hom het hy vir Michael uit die water gehaal en eers op sy maag gedruk dat die water wat hy gesluk het kon uitkom, waarna hy hom na sy ma toe gevat het.
“Hy het my kind se lewe gered, ek wil nie eers dink wat sou gebeur het as Piet nie daar was nie. Michael weet hy mag net in die water in as daar grootmense by is. Ek het nie geweet of ek hom moet pakslae gee of soen nie,” vertel Oosthuizen.Makaudi werk al vier jaar by Oosthuizen se ouers en het Michael voor hom sien grootword. Die 28-jarige tuinwerker is self ook pa van ‘n ses maande oue seun.
“Hy is ‘n held, as dit nie vir hom was nie kon dinge baie anders gewees het. Ek het hom gevra wat ek vir hom kan gee om my dankbaarheid te bewys, maar al wat hy wil hê is ‘n loopring vir sy eie seun,” vertel Oosthuizen. Makaudi bly beskeie wanneer hy ‘n held genoem word. “Dit was nie my plan nie, maar ek weet dit is ‘n groot ding wat ek gedoen het,” vertel hy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button