NewsNews

Niks kry klein Marko onder nie

VEREENIGING. – Met sy bruin ogies en mooi glimlag lyk Marko soos ‘n gewone seuntjie. Dit is eers wanneer hy begin loop en sy hempie uittrek, dat jy kan sien daar is groot fout met die klein lyfie.

IMG_8942

Marko Greyling (5) is met skoliose gebore en moet op 29 November ‘n rugoperasie ondergaan sodat hy ook ‘n normale lewe kan hê.
Skoliose is basies die verkromming van die ruggraat en Marko s’n is reeds in ‘n kritieke stadium. Hy het op die ouderdom van drie jaar sy eerste operasie ondergaan om sy ruggie reguit te maak, maar met sy opvolgbesoek aan die dokters het hulle opgemerk die skroewe en plate het gebreek en hy moes ‘n noodoperasie ondergaan om dit te verwyder.
“Die dokters het gesê as hy baie van balans af begin raak en verswak, moet hy terugkom sodat hy weer geopereer kan word. Hy is egter die laaste tyd meer van balans af en sy loop het baie verswak,” sê Marko se pa, André.
Marko se organe in sy lyfie is ook omgeruil, alles wat links moet wees is regs en andersom. Hy is tans maar ‘n skamele 91cm lank. “Dit is vir hom ongemaklik om te lê en hy het maar sy manier van lê en sit wat vir hom gemaklik is. Wanneer hy moeg raak soos wat die dag vorder, kan jy sien hy loop meer krom. Hy sal nie sommer sê hy het seer nie, maar as hy spierwit in sy gesig raak dan weet ek hy het baie seer,” sê Nicolene, Marko se ma.
Marko is nie lief daarvoor om skoene te dra nie, want hy loop op sy tone omdat dit makliker is vir hom. Hy eet ook nie baie nie omdat sy magie vasgedruk word. Volgens sy pa en ma is hy ‘n baie sterk seuntjie wie se geloof en uithouvermoë verstommend is.
André en Nicolene beskryf Marko as ‘n besige kind wat hou van speel. Hy is ook ‘n ekstrovert en is nou in ‘n stadium waar hy baie vrae vra.
“Ons wil net die beste vir hom hê en ons hoop hy kan wanneer hy volgende jaar skool toe gaan by Laerskool Risiville ‘n normale lewe hê,” sê André. Weldoeners in die gemeenskap het ook ‘n projek geloods om die beste moontlike versorging vir Marko te bied.
Wanneer hy die volgende operasie by die Charlotte Maxeke-hospitaal ondergaan gaan hy onder meer ‘n spesiale bed en karstoeltjie benodig wat egter nie gekoop word met die kleingeld in jou beursie nie.
Hy gaan ook fisioterapie ondergaan en ten tye van die operasie en herstel in die hospitaal moet sy pa en ma Johannesburg toe en terug ry, wat hulle ook ‘n hele paar rand uit die sak gaan jaag.
André is tans die enigste broodwinner in die huis en die gesin behoort nie aan ‘n mediese fonds nie. Indien enige persoon die gesin kan help met bogenoemde, kan hulle Audrey by 082 859 3777 kontak. Hou ook gerus ons webblad by www.vaalweekblad.com dop vir meer besonderhede. Meer inligting oor Projek Marko Greyling sal ook binnekort beskikbaar wees.

Marko saam met sy pa, André en sy ma Nicolene.

Marko het tans 'n boggeltjie op sy rug soos wat sy ruggraat weens skoliose verkrom.

Marko en sy pappa André.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button