NewsNews

Kaartbedrog neem drasties toe in buurdorp

Kaartbedrog het die afgelope drie maande in ons buurdorp Potchefstroom die hoogte in geskiet.

kaart

Kaartbedrog het die afgelope drie maande in ons buurdorp Potchefstroom die hoogte in geskiet.
Oor die laaste drie maande is sowat 80-100 sake by die polisie aangemeld en volgens ao. Mpho Manyoba, ‘n polisiewoordvoerder, is daar oor die naweek weer sake aangemeld.
“Niksvermoedende slagoffers het bloot ’n boodskap op hulle selfone gekry dat daar geld uit hulle rekening onttrek is,” sê Manyoba.
Die bedrae wissel van R800 tot R4 000 en die geld is by verskeie OTM’s in die stad getrek.
Volgens ao. Pierre Visagie, wat die meeste van die sake ondersoek, is daar ’n paar wyses hoe diewe toegang tot die bankrekeninge kry.
Dit begin met ’n klein kaartleestoestel. Wanneer ’n kaart deur dié toestel getrek word, lees en stoor dit al die inligting wat op die magnetiese band van die kaart is. Dié inligting word deur middel van ’n ander toestel oorgedra na ’n leë kaart.
So word ’n persoon se bankkaart dus gekloon. Al wat die diewe dan nodig het, is ’n persoon se pin-nommer. Volgens Visagie gebruik diewe deesdae ’n termiese kamera wat aan die agterkant van ’n slimfoon pas. Die kamera lyk soos ‘n selfoonkassie. Wanneer die kaarthouer sy/haar pin-nommer insleutel, wys die termiese kamera op watter nommers gedruk is, omdat die knoppies wat gedruk is warmer sal wees as dié wat nie gedruk is nie. Die volgorde van die nommers wat gedruk is, kan bepaal word omdat die koudste knoppie eerste gedruk sal wees en die warmste knoppie laaste. Sodra ’n dief dus die gekloonde kaart en die pin-nommer het, het hulle toegang tot die bankrekening.
Die kaartleser word in sommige gevalle oor die kaartgleuf van die OTM geplaas, asook met ’n vals sleutelbord wat deur middel van “bluetooth” aan die dief se selfoon gekoppel is.
Wanneer die kaart in die gleuf gedruk word, lees dit die kaart se inligting. Wanneer die kaarthouer daarna die pin-nommer probeer insleutel, kry die dief deur middel van “bluetooth” die nommer wat die kaarthouer intik. Visagie waarsku dat pin-nommers baie versigtig hanteer moet word. Maak die sleutelbord by die OTM toe wanneer pin-nommers ingesleutel word of, om termiese kameras te mislei kan mens twee vingers net op ander knoppies laat rus terwyl jy jou pin-nommer insleutel. Maak ook seker daar is niks verdag aan die OTM of kaartmasjien wat jy gebruik nie.
So ’n kaartleser is al in Potchefstroom deur ’n lid van die publiek gevind, maar hulle het dit van die OTM afgehaal en stukkend getrap en daarom was dit nie moontlik om DNA daarop te probeer vind nie. Visagie sê as lede van die publiek iets verdags by ’n OTM sien moet hulle dadelik die Potchefstroom polisiestasie by (018) 299 7457 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button