NewsNews

Só werk aanneming by die DBV

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) is suiwer van die goedhartige skenkings van sakelui en die publiek afhanklik. Sonder enige geldelike staatsondersteuning trek die DBV, soos baie ander welsynsorganisasies, finan-sieel baie swaar.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) is suiwer van die goedhartige skenkings van sakelui en die publiek afhanklik. Sonder enige geldelike staatsondersteuning trek die DBV, soos baie ander welsynsorganisasies, finan-sieel baie swaar.
Tog lewer hierdie organisasie ook in die Parys-gemeenskap ’n  baie waardevolle diens waarvan baie inwoners al sou kon getuig.
Daar word letterlik daagliks geworstel met die kwessie om ‘n geskikte tuiste vir die talle diere te kry wat in die DBV-hokke beland. Sommige is mishandel of verwaarloos, en ander se eienaars kan eenvoudig net nie meer vir hulle sorg nie.
Met Gazette se onlangse besoek aan die DBV was daar 14 honde en 10 katte waarvoor huise gekry moes word.
Hoe werk hierdie aannemingsproses?
Die DBV vereis dat ’n  dier minstens twee weke in die DBV-hokke gehou word in ’n  poging om ’n tuiste vir die dier te probeer vind, of die eienaar op te spoor.
Wanneer ’n  dier aangeneem word deur ’n  nuwe eienaar, is daar ’n vooraf keuringsproses. Die nuwe eienaar sal ’n hond of kat na sy/haar keuse kies, waarna DBV personeel die nuwe eienaar by sy/haar huis sal besoek om seker te maak die terrein en eienaars sal kan voorsien in die spesifieke dier se behoeftes. So sal dit byvoorbeeld glad nie deug om vir mense met ’n meenthuis ’n groot hond te laat aanneem wat spasie en baie beweegruimte nodig het nie. Daar moet seker gemaak word dat die hond en sy nuwe eienaar ’n kans staan om ’n band te vorm met mekaar. As die voorafkeuring slaag, moet die dier volgens DBV-beleid gesteriliseer word alvorens hy na sy nuwe tuiste mag gaan. Jy betaal derhalwe nie vir die dier nie, maar slegs die inenting en sterilisasiekoste.
Waarom is dit nodig?
Juis omdat die DBV voortdurend met ongewenste diere sit, word daar ten alle koste gepoog om seker te maak dat daar nie ongewenste diere is waarvoor daar weer opnuut huise gesoek moet word nie.
Die plaaslike DBV sal jou R770 vra om ’n klein reun te laat steriliseer en inent voor aanneming, R870 vir ’n  klein teef, R860 vir ’n medium reun, R1 010 vir ’n medium teef, R1 070 vir ’n groot reun en R1 190 vir ’n  groot teef. Vir ’n kat mannetjie sal jy R600 betaal en vir ’n katwyfie R700 (sterilisasie en inent koste).
Om ’n  ID-mikroskyfie te laat insit vir makliker opsporing, sal jou nog R15 kos. Ongelukkig is daar baie min mense wat diere aanneem, maar die afgelope twee weke kon daar wel vir twee honde ’n nuwe tuiste gekry word. Die vraag is egter wat van dié waarvoor daar nie huise gekry word nie en waarvoor daar nie onbepaald sonder fondse gesorg kan word nie.
Juis daarom is dit ‘n gemeenskap se verantwoordelikheid om toe te sien dat daar nie ongewenste diere in die DBV se hokke beland nie.
Onthou dat die DBV ook ’n oornagfasiliteit vir diere bied op die DBV perseel self, teen R40 per nag vir honde en R25 per nag vir katte. Dit sluit hul kos in, maar mense is ook welkom om, sou jou troeteldier spesiale kosvoorkeure of behoeftes het, self die kos saam te stuur. Daar is permanent ’n persoon aan diens op die DBV perseel om na die diere om te sien.
Magdaleen Frankfurth is sedert 1 Mei aangestel as DBV-inspekteur by die plaaslike DBV-tak, met Amelia van Zyl wat die fondsinsameling en na-ure bystand hanteer, terwyl Joan Ferreira wat ook die visevoorsitter van die DBV-komitee is, die administratiewe take op datum hou.
Die DBV-kantoor is oop Maandae tot Vrydae 08:00 tot 16:00 en Saterdae van 08:00 tot 12:00. Die personeel is egter so toegewyd dat hulle selfs na-ure of in nood beskikbaar is vir mense wat van ver kom en belangstel om diere aan te neem.
Die DBV-personeel sê dankie aan elkeen wat hulle ondersteun, in besonder die personeel van Parys-dierehospitaal. Jy kan help deur enige skenking, hetsy dit kos vir die diere, komberse, skoonmaakmiddels of enige ander bydrae is. Skakel die DBV-tak by (056) 811 3761 of 072 894 4061 na-ure.
En onthou – die DBV sal nooit sonder rede ’n  dier oplaai sonder dat daar ’n klagte is nie. Maak seker as iemand jou diere oplaai dat dit ’n gemerkte DBV voertuig is of dat die nodige identifikasie gewys kan word.
Wanneer jou troeteldier wegraak of later dalk weer gevind word, rapporteer dit by die DBV.
Om lid te wees van die DBV kos jou net R60 per jaar, of ondersteun die DBV-winkel van 09:00 tot 17:00 weekliks. Die winkel is in Philipstraat regoor Pick n  Pay. Jy kan ook ’n  hok borg teen R250 per maand of selfs huisware of klere in onbruik aan die DBV-winkel skenk.
Daar is talle maniere waarop jy ’n  verskil kan maak – hoe gering ookal. Raak betrokke by jou plaaslike DBV-tak.

* Die Yorkies reuntjies waaroor Gazette verlede week berig het, het intussen huise gekry.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button