NewsNews

Tiener-talent betower Aardklop

Die Aardklop nasionale kunstefees het vanjaar nie net gespog met puik verhoog, musiek-en kunsproduksies nie, maar ook met tienerproduksies wat sommer maklik professionele produksies ‘n les of twee kan leer. Die ATKV Tienertoneel-kompetisie spog met sy 52ste bestaansjaar en sy 10de jaar wat dit in Potchefstroom aangebied word. Daar het vanjaar 181 produksies deelgeneem aan die hierdie landwye kompetisie, met skole van Namibië wat ook deelgeneem het.

Die maan val bewusteloos is die naaswenners van ATKV-tienertoneel 2016 Foto: Annemarie Wichmann

Die maan val bewusteloos is die naaswenners van ATKV-tienertoneel 2016 Foto: Annemarie Wichmann

JP Myburg | Potchefstroom Herald

Die ATKV Tienertoneel-kompetisie spog met sy 52ste bestaansjaar en sy 10de jaar wat dit in Potchefstroom aangebied word. Daar het vanjaar 181 produksies deelgeneem aan die hierdie landwye kompetisie, met skole van Namibië wat ook deelgeneem het.
Projekbestuurder van ATKV-Tienertoneel, Lizané Basson is oorstelp van vreugde dat Aardklop vanjaar wel aangegaan het en so ‘n groot sukses was. “Aardklop bied nie net die perfekte geleentheid om ‘n nasionale finaal te kan aanbied vir tienertoneel nie, maar ook die platform vir hierdie tieners om toegang te kan hê tot ‘n fees wat die geleentheid bied om teater te kan kyk en leiers in die industrie te kan ontmoet, dít is immers ‘n leerskool vir die tieners.”
Die top-16 produksies kom van regoor die land en spog met twee skole uit Potchefstroom.
“Ons is verheug oor die feit dat ons vanjaar in plaas van slegs tien stukke, eerder ‘n top 16 finaal kon aanbied,” voeg Lizané by. Hoërskool Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom het albei deurgedring na die nasionale finaal. Die ander skole kom uit streke soos die Kaap, Gauteng en die Vrystaat.
Die top vyf produksie-aankondiging het ‘n Kaapse gehoor in ekstase gehad toe al vyf skole in die top vyf uit die Kaap-distrik kom.

Die wengroep, Hoërskool Durbanville met Fragmente. Foto: Annemarie Wichmann

“Wat lekker was van hierdie jaar is dat daar ‘n lekker verskeidenheid in genres was en dat daar van komedie, drama tot fisiese teater in die top vyf was. Dit is ook opvallend dat daar so baie nuutgeskrewe tekste was en dat dit self deur jongmense geskryf word.”
Die wenners en naaswenners van die kompetisie is op 8 Oktober aangekondig by HTS Potchefstroom. Hoërskool Durbanville het die algehele titel met ‘n prysgeld van R30 000 gewen met hulle produksie Fragmente, wat ‘n drama-komedie is wat regte sosiale kwessies soos terrorisme, geloof en seksuele oriëntasie aanspreek. Die naaswenners, Hoërskool Jan van Riebeeck het met R20 000 prysgeld weggestap vir hulle fisieseteater-produksie, Die maan val bewusteloos, deur Nico Scheepers.
“Ons het klomp planne, geheime en verrassings vir volgende jaar se tienertoneel en hoop dat ons dit weer hier by Aardklop kan hou vir ‘n 11de jaar in ‘n ry, ons het amper begin bekommerd raak toe die woord versprei dat Aardklop nie sou voortgaan nie. Ons moes begin alternatiewe reëlings tref, maar danksy ‘n nuwe Aardklop-direksie kon ons voortgaan hier in die hartjie van Noordwes.”

Related Articles

Back to top button