NewsNews

Man slaap in selle oor hond in voertuig

‘n Man is Saterdag omstreeks 14:00 in hegtenis geneem nadat hy sy hond in ’n warm voertuig gelos het.

Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die polisie ’n oproep van ’n bekommerde inwoner ontvang oor ’n hond wat voor ’n kroeg in Beyers Naudèstraat in ’n voertuig gelaat is. Die polisie het die eienaar van die hond gewaarsku om sy hond uit die voertuig te haal. Hy het glo aan die polisie gesê dat hy op pad was. Hulle het daarna die toneel verlaat. Paws is ook ontbied om die situasie te hanteer. Volgens Andries Venter, bestuurder van Paws, het hy met aankoms die hond in die voertuig aangetref.
“Die venster was bietjie oop, maar die voertuig het in die son gestaan,” vertel Venter.
Terwyl hy by die voertuig gestaan het, het die man uit die kroeg gekom en vir hom gesê dat dit sy hond is. Venter het aan hom verduidelik dat hy die hond uit die voertuig moet haal omdat dit skadelik is om hom in so ‘n warm voertuig te hou.
“Hy het vir my gesê dat hy net sy drankie wil klaar drink dan gaan hy ry. Ek het vir hom probeer verduidelik dat die hond dadelik uitgehaal moet word, waarna hy terug is in die kroeg,” sê hy.Die voertuig wat voor die kroeg gestaan het en waarin die hond was. Foto: Verskaf

Venter het die man agtervolg om hom te probeer oorreed om sy hond uit die voertuig te haal. Nadat Venter uit die kroeg gekom het, het iemand reeds die hond uit die voertuig gehaal en vir Venter gegee.
“Ek het nog met die hond in my arms gestaan toe die man weer uitkom. Hy het dadelik aggressief begin optree.
Hy het die hond uit my arms probeer gryp en in die proses het hy die hond seergemaak,” sê Venter.
Na die derde keer wat die man die hond uit sy arms wou gryp, het Venter vir die man gesê dat hy hom in hegtenis gaan neem vir dieremishandeling. Intussen het die polisie weer daar aangekom.
Die man het hom teëgesit, waarna die polisie vir Venter moes bystaan om die man in bedwang te bring.
Die man is daarna op aanklag van dieremishandeling in hegtenis geneem.
*Paws is onlangs aangestel as vredesbeamptes om spesifiek bywette rondom diere af te dwing.
Die hond is tans by Paws, terwyl die saak afgehandel word.

 

 

 

Die temperatuur binne ’n voertuig kan vinnig styg. Op ’n dag wat dit 32 grade buite is, kan die temperatuur binne tien minute tot en met 71 grade binne ’n voertuig styg.
Diere kan breinskade opdoen of selfs binne 15 minute vrek weens sonsteek.
Volgens die Humane Society of the United States, is daar bewys dat vensters wat oopgemaak word, ’n baie klein uitwerking het op die temperatuur binne die voertuig.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button