NewsNews

Dowwe Dolla en haar ouma kuier vanjaar by Aardklop

Dowwe Dolla se ouma kom vanjaar saam Aardklop toe en volgens alle aanduidings laat ouma Dowe Dolla gehore nóg meer lag. Dit is die eerste keer in die 18 jaar van Dolla se bestaan dat Margit Meyer-Rödenbeck nog ‘n karakter op die verhoog sal hê, ook vertolk deur haar. Madeleine Barnard skryf op die KKNK het ouma Dowe Dolla “met ‘n heuglike handsak oor die arm en ‘n TV-afstandbeheer met pap batterye in die hand op die verhoog verskyn”. “Ouma het geen brieke nie. Sy grawe ‘n halfjack uit haar handsak en skink. En sy sê presies wat sy dink.

Dowwe Dolla

Dowwe Dolla
“Sy teef oor die jongspan en hul slimfone, seksuele teistering, vet kinders, tatoeëermerke. Sy laat haar met groot oorgawe uit oor jong mense wat dink hulle kan sing en dan loopbane maak met name soos Rudi Runderpes.
“Sy mymer oor die goeie ou dae van Frank Sinatra, Bing Crosby en Bles Bridges. Sy rap so ‘n stukkie. Sy verlang na die ou Huisgenoot met dr. Chris Barnard en André Stander. En dan sit sy haar dop neer en skuifel van die verhoog af.”
Dolla is egter ‘n ander kalant. Sy is ‘n slim dolla en daarom gaan sy die werklike redes onthul hoekom vroue nog mans “aanhou” en ontleed ook die Suid-Afrikaanse “braai” uit ‘n blonde sielkundige oogpunt.
In die proses word ingewikkelde onderwerpe soos trofeejag, homeopatie, arachnofobie en hondsdolheid onder die vergrootglas geplaas. Sy kwetter oor Twitter, gooi ‘n paar hêshtêgs en klets oor emoji.
Meyer-Rödenbeck sê dit kos konstante herskepping om Dolla relevant te hou.
Baie het al oor die jare verander, behalwe die pruik.
En nou is daar ouma Dowe Dolla.
Volgens Margit is Dolla lankal nie meer ‘n karakter nie. Sy is haar eie mens met haar eie persoonlikheid en haar voorkeure en afkeure. Sy hou van dié soort rok en daai soort skoene.
Sy hou nie regtig van “Zumpies” nie en die vroue van Brakpan loop ook onder haar tong deur.
Op die KKNK het sy aan Rozanne Els gesê “dis lekker dat Dolla oorneem – ek sal te skytbang wees om self, as Margit, op die verhoog te wees. My selfbeeld is hopeloos te swak.
“Maar dit is nie vreemd nie. Die meeste kunstenaars is introverte en het nie ‘n goeie selfbeeld nie. Op 46 is ek definitief nou by ‘n punt dat ek weet dit is oukei om nie oukei te wees nie.
“Dit is een van die min perks van ouer word,” het sy skertsend gesê.
Jurgen Human, Margit se wederhelf, het die liedjies en teks vir #dowwedolla geskryf en Emile Minnie het leiding geneem met die musiek en spel.
Die komedie was een van die 10 topverkopers op die KKNK.

Related Articles

Back to top button