NewsNews

’n Grafsteen vir hulle wat nooit die kans op lewe gehad het nie

Hulle het nooit die kans op lewe gehad nie. Weggooi babas - een gekry in ’n veld in die nywerheidsgebied van Parys, en ’n tweede in Koppies. Weggooi babas wie se liggaampies al erg ontbind was toe hulle gekry is.

Hulle het nooit die kans op lewe gehad nie. Weggooi babas – een gekry in ’n  veld in die nywerheidsgebied van Parys, en ’n tweede in Koppies. Weggooi babas wie se liggaampies al erg ontbind was toe hulle gekry is.
Dit is dalk net een van die baie granietstene in die nuwe begraafplaas in Parys. Maar dié grafsteen wat deur die Emunah Founda-tion opgesit is by die kindergraffie van dié twee naamlose kindertjies, vertel ’n hartseer storie. ’n Storie van ’n  samelewing waar kinders weggegooi word. Twee kinders na wie daar nou in liefde uitgereik is om ook vir hulle ’n bietjie waardigheid te gee.
’n  Stille getuienis van dit wat gereeld in ons samelewing gebeur met pasgebore babas wat op vullishope en in asblikke gekry word, maar waarvoor ons dikwels ’n blinde oog draai.
Colin en Sonja Viljoen het van die twee babas te hore gekom wat op 22 November 2015 en 31 Januarie 2016 onderskeidelik gekry is en besluit om die grafsteen op te sit.  Dit is moontlik gemaak danksy Padima Tomb Stones & Kitchen Tops se Patrick Matsoso.
Die Viljoens het in Julie 2015 die Emunah Foundation in Parys gestig as nie-winsgewende maatskappy. Die afgelope jaar het hierdie egpaar met hul toewyding om verwaarloosde, weggegooide en mishandelde kinders te help, reeds ’n verskil in nege jong lewens gemaak. Hulle werk nou saam met die maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie, asook die SAPD en die hospitaal.
Die Viljoens het die groot nood raakgesien van slagoffers van huishoudelike geweld en ander omstandighede wat te midde van die trauma geen veilige heenkome het, dikwels juis na-ure en oor naweke.
Worstelende vrae van polisielede en maatskaplike werkers wat maar van die rolspelers in hierdie proses is om hulp te verleen.
Deel van Emunah Foundation is ook ’n  Wall of Life-projek om aborsies en pasgeborenes wat agtergelaat word op plekke soos vullishope, in toilette ensovoorts, te help voorkom. Die Wall of Life is in Schilbachstraat 81.
Die Wall of Life-projek is aanvanklik deur polisielid Michelle Stephenson van Vanderbijlpark begin met die Jessica’s Wall of Life projek. Sy is in 2006 as polisielid uitgeroep na ’n vullishoop waar sy gekonfronteer is met die harde werklikheid van ’n baba wat weggegooi is op ’n  vullishoop. Met soveel deernis het sy die babalykie uitgehaal en toegesien dat sy met waardigheid begrawe is soos haar eie kind. Daar het die gedagte posgevat om seker te maak dat elke baba eerder die kans op lewe sou hê as ’n aborsie of om weggegooi te word deur ’n ma wat moontlik voel dat sy geen ander opsie het nie.
Twee jaar later, in 2008, is Jessica’s Wall of Life in Vanderbijlpark opgerig en twee jaar later het sy die eerste oproep van die hospitaal gekry van ’n baba wat hier geplaas is.
Die Wall of Life is ’n “kluis” met ’n voor- en agterdeur. Sodra die voordeur oopgemaak word om die baba in die kluis te plaas, gaan ’n alarm af by die hospitaal of plek waar die muur is, sodat daar dadelik aan die baba aandag gegee kan word. Ultra-violet ligte binne die kluis maak seker dat die temperatuur gunstig is vir die baba. Die baba word dan deur versorgers soos Michelle en haar dogter, of in hierdie geval deur Sonja versorg, totdat ’n geskikte tuiste gekry kan word deur die regte kanale te volg.
Emunah Foundation is suiwer afhanklik van die goedhartige skenkings en bydraes van die gemeenskap. Min weet van die ure wat Colin en Sonja saans wakker sit om ’n  kind wat hulle nie ken nie te troos, medisyne te gee of ure lank by die kliniek of ander rolspelers te sit en wag op hulp. Maar dis kinders na wie hulle wil uitreik om in ’n stukkende wêreld tydelik ’n plek van veiligheid te bied.
Hetsy dit brandstof, kinderklere, kos, of enigiets is wat kan help om te voorsien in die daaglikse behoeftes van ’n kind – enigiets word deur die egpaar verwelkom wat tans die meeste van die kostes om na hierdie kinders om te sien, self dra. So is daar al vir nege maande lank na ’n  kind omgesien totdat ’n  uitplasing deur die betrokke owerheidsinstansies gedoen kon word.
Mense wat meer inligting oor die Emunah projek in Parys wil hê of graag ’n bydrae wil maak hoe gering ookal, is welkom om Sonja by 083 696 7410 of Colin by 072 223 7583 te skakel of ‘n e-pos te stuur na emunahparys@gmail.com

Related Articles

Back to top button