NewsNews

85 jaar se spore op Vegkop gevier

Die Voortrekkerbeweging vier vanjaar regoor Suid-Afrika, maar ook in Namibië sy 85ste bestaansjaar met die tema, Trap nuwe spore. Oor die volgende twee maande sal verskeie feeste ter viering hiervan gehou word.

Die Voortrekkerbeweging vier vanjaar regoor Suid-Afrika, maar ook in Namibië sy 85ste bestaansjaar met die tema, Trap nuwe spore.  Oor die volgende twee maande sal verskeie feeste ter viering hiervan gehou word.
Parys Voortrekkerkommando sal saam met nagenoeg 500 Voortrekker-kinders vanoor die hele Noord- en Oos-Vrystaat sowel as die Goudveld by Vegkop net buite Heilbron saamtrek vir die feesviering wat hier gehou word. Deel van die program is die inlywing van bykans 300 jong Penkoppe, Drawwertjies, Verkenners en Offisiere. Die hoofspreker is Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkerbeweging. Na die inlywing sal daar lekker saamgekuier word op eg Voortrekker-manier met boeresport en speletjies. Bring jou piekniekmandjie en kom braai saam of maak gebruik van die kosstalletjies op die terrein.
Toegang is gratis. Bring net jou kampstoel. Parys Kommando-lede sal per bus na Vegkop gaan, maar ouers is meer as welkom om met eie vervoer te kom en vanaf 09:00 saam te kuier. Dis ’n  informele geleentheid – trek gemaklik aan. Voortrekkers sal formele drag dra. En maak seker jy bring ’n geldjie  vir die Voortrekkers se eie kookboek, Die Voortrekkers kook, wat ter herdenking van die feesjaar teen R180 verkoop word. Jy kan nie hierdie versameling van kampkos en ander gunstelinge misloop nie.
Ander feeste wat gehou word sluit in die fees op 24 September op Erfenisdag by die Voortrekkermonument in Pretoria waar ’n  Voortrekkerkind-beeld onthul sal word.
’n  Dokumentêr, getiteld Voortrekkerspore, wat handel oor vandag se Voortrekkers se doen en late, wys Sondag 18 en 25 September om 14:30 op KykNet.
Volgens dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, is Die Voortrekkers ’n  kombinasie en balans tussen kultuur, avontuur en natuur. Hy som die Voortrekkers se aktiwiteite vandag op as “’n  behoortplek waar oupa en ouma, pa en ma, saam met hulle kinders in ’n  gebalanseerde kultuuromgewing saam kuier, saam dien en saam kultuur met avontuur in die natuur geniet.
Hy sê deur vaardigheidsontwikkeling, waardegedrewe antwoorde en praktiese toepassing vat die Voortrekkers die toekoms met selfvertroue. Die goue reël is om niks vir jeuglede te doen wat hulle nie self kan doen nie. Hierdeur leer hulle om waardes en vaardighede in hul konteks prakties toe te pas.”
Hiervan kan lede van die Parys Voortrekkerkommando getuig. Dis hier waar vriendskappe gesmee word, soveel geleer word van die natuur, kultuur en waardes en kinders vaardighede geleer word wat hul andersins dalk nooit die voorreg sou gehad het. Vra maar vir elke Voortrekker – as jy nog nie by Doornkloof was nie, het jy nog nie kamp op sy beste beleef nie!
Gazette vertel jou volgende week meer oor die Vegkop-fees

Related Articles

Back to top button