News

VVA-bederf vir Vrouemaand

Augustus is tradisioneel Vrouemaand. Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) het Vrouedag op ’n gepaste wyse gevier - met kant, pêrels en goiing. Dit was die breinkind van Minnie Kilian wat haar gewig by die VVA in Parys ingegooi het en saam met die personeel vir ’n prag geleentheid gesorg het. Meer as 200 vroue van die dorp en elders het die geleentheid in die NG-Wes gemeente se kerksaal bygewoon.

Augustus is tradisioneel Vrouemaand. Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) het Vrouedag op ’n  gepaste wyse gevier – met kant, pêrels en goiing.
Dit was die breinkind van Minnie Kilian wat haar gewig by die VVA in Parys ingegooi het en saam met die personeel vir ’n prag geleentheid gesorg het. Meer as 200 vroue van die dorp en elders het die geleentheid in die NG-Wes gemeente se kerksaal bygewoon.
Daar is gesels oor al die fasette van vrouwees – van die vrou en haar boeke, die vrou en haar engel tot by die vrou en haar skoene. Elke gasvrou moes ook een vrou van haar tafel nomineer om ’n kort tweeminuut-praatjie te lewer, en dit het gesorg vir menige traan-wegpik tot ’n uitbundige lag.
Daar was koeverte op die tafels waarin gaste nog ’n  geldjie kon insit, wetende dat dit vir ’n  goeie doel is. Die totale wins van die oggend se verrigtinge was R20 000 wat die VVA nuttig gaan gebruik vir befondsing van hulle talle projekte.
Wat doen VVA:
* Die vyf maatskaplike werkers beluister probleme – soek en bedink projekte.
* Hulle skryf verslae, doen hofwerk vir pleegsorgplasings.
* Soek oplossings vir swanger tieners en stout kinders. Help skewe verhoudings regbuig en seer huwelike versorg.
* Beveg alkohol- en dwelmverslawing en verleen hulp.
* Hulle bied terapie aan kinders en almal wat dit nodig het, en luister na straatkinders en boemelaars se hartseer.
* Die kombuis bedink, beplan en kook so saam-saam – hulle bedien en bederf – met groot liefde.
* Die Sakpas winkel woeker met klereskenkings en elke sent word teruggeploeg in kos en aankope.
Hulle koördineerder, bou aan nuwe kontakte, ‘n groter vrywiliger korps en reël projekte wat fondse kan genereer.
* Die finansies en administrasie is soos ’n  trein sonder remme en ’n  oog sonder slaap.
* Hul naaldwerkmasjiene werk onverpoosd, klere en ander interessante artikels word gemaak en verkoop.
Dit alles is die leefwêreld van die VVA kantoor in Parys. Hulle word op koers gehou deur die hoofkantoor in Bloemfontein onder die wakende oog van die VVA Direkteur, Darien Oosthuizen. En saam met die vrywilligers in die dorp doen hulle toegewyd alles in hulle vermoë om die beste diens moontlik te lewer.
’n Diens aan minderbevoorregtes en almal wat hul hulp en onderskraging nodig het. Die wins van R20 000 klink miskien baie, maar daar is nog baie nodig. En nog nodiger is vrywillige hande. Hulle het ook JOU hande nodig.
As jy by die VVA wil inskakel, op watter manier ookal, kontak vir Estelle Marais by die VVA kantore in Buitenstraat by tel. 056 811 2971.

Related Articles

Back to top button