NewsNews

Kopereend – SA se prag watervoël

Die Kopereend/South African Shelduck (Tadorna cana), is ’n groot voël - 64cm lank en weeg van 1.1 tot 1.4kg. Dit is ’n gansagtige voël wat behoort aan die Anatidae familie van swane, ganse en eende. Die mannetjie is effens groter as die wyfie.

Die Kopereend/South African Shelduck (Tadorna cana), is ’n  groot voël – 64cm lank en weeg van 1.1 tot 1.4kg. Dit is ’n gansagtige voël wat behoort aan die Anatidae familie van swane, ganse en eende. Die mannetjie is effens groter as die wyfie.
Soos die naam aandui het hierdie eend ’n  koper/roesbruin kleur oor die hele lyf met ’n swart snawel en pote, en het ook opvallende swart, wit en groen merke.
Die mannetjie eend het ’n grys kop, en die wyfie ’n  wit gesig met ’n  grys kop en nek (sien fotos). Die verskil in voorkoms tussen mannetjie en wyfie, word geslagsdimorfie genoem. By die Kopereend is die geslagsdimorfie omgekeer deurdat die wyfie in die geval die helder kleure vertoon. In die voëlwêreld is dit gewoonlik die mannetjie wat meer kleurvol vertoon.
Hierdie pragtige watervoël het ‘n baie hoë populasie voorkoms oor feitlik die hele Suid-Afrika en Namibië. Hulle word gewoonlik aangetref in gebiede met vlakwater panne en damme asook by riviere, beide in hoogliggende en laagliggende gebiede. Gedurende die broeiseisoen verkies hulle hierdie soort van habitat, maar hulle sal ook weg van water af in natuurlike grasveld en ou graanlande gesien word.
Na die broeiseisoen verkies die eende ‘n habitat met digte moerasse en groot, diep varswater mere. Dit is dan hier waar hulle verveer en byvoorbeeld al hulle vlugvere verloor. Hulle sal vir 28 – 40 dae glad nie kan vlieg nie. Gedurende hierdie tydperk verloor hulle ook 25% tot 35% van hulle liggaamsgewig.
Die eende se dieet gedurende die broeiseisoen bestaan uitsluitlik uit plantmateriaal. Hulle vreet dan allerhande soorte graansade, blare, grasse, waterplante en alge. Buite die broeiseisoen verander hulle na omnivore en leef dan van dier-sowel as-plantmateriaal.
Die broeiseisoen word ingelei met aktiewe paringsgedrag op land, wat gepaard gaan met luide toeter/skreeu roepe deur albei geslagte. Die wyfie se roep is skerper as dié van die mannetjie. In hierdie tyd is die wyfie ook baie agressief teenoor ander wyfies in die populasie.
Na al die rituele op land, vind paring binne in die water plaas. Daarna sal die wyfie die leiding neem om ’n  geskikte nesmaakplek te soek wat dan met alle mag deur die mannetjie beskerm/verdedig sal word.
Broeityd is hoofsaaklik van Junie tot September. Die nesmaakplekke is gate in die grond, gewoonlik ongebruikte gate van erdvarke, ystervarke of selfs springhase.
Kopereende is monogame broeiers en dit lyk of pare ‘n lewenslange verbintenis aangaan. Pare broei geïsoleerd en is baie gebiedsgebonde.
Die wyfie bou die nes aan die end van die gekose tonnel met ou plantmateriaal wat sy met vere en sagte dons uitvoer.
Ses tot vyftien eiers word gelê teen ’n tempo van skynbaar een per dag. Die broeiproses begin na die laaste eier gelê is, sodat die kleintjies almal min of meer gelyktydig uitbroei en almal saam water toe geneem kan word waar hulle veilig is.
Die inkubasie is 30 dae en word deur die wyfie alleen behartig. Daar bestaan geen bewyse dat die mannetjie eend in hierdie tyd op enige stadium in die nestonnel ingaan nie.
Sodra die kleintjies almal uitgebroei is, sal die paar hulle na die water toe lei, gewoonlik vroeg in die oggend. Hier word hulle in vlakwater of modderige dele gehou waar hulle deur albei ouers versorg en beskerm word. Wanner gevaar dreig sal hulle na dieper water geneem word. Die klein eendjies duik ook onder die water in om van dreigende gevaar te ontsnap. Die broeipaar sal ook hul kuikens agressief verdedig teen predatore soos reiers, en ander groter voëls. Die jong voëls bly naby die sorg van hulle ouers vir 90 – 120 dae, waarna hulle heeltemal onafhanklik is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button