NewsNews

Koepel se naghemel in gevaar

Our Milky Way is way better! Só het Clover onlangs sy melkprodukte aangeprys. In die moderne samelewing is daar egter al hoe minder kontak tussen die mens en die natuur. Een van die aspekte wat die meeste onder die tegniese vooruitgang ly en ongemerk verdwyn, is die sterre. In die gloed van ’n groot stad se duisende ligte het die flou lig van ’n ster of planeet nie ’n kans om gesien te word nie - laat staan nog die subtiele prag van die melkweg of die kleure van die sterre. In die vroeë kulture het die sterrehemel ’n oorweldigende rol in die geestelike lewe van mense gespeel. Dit was die agtergrond waarteen die donker nagure, met die gepaardgaande gevare en vrese, afgespeel het.

Our Milky Way is way better! Só het Clover onlangs sy melkprodukte aangeprys. In die moderne samelewing is daar egter al hoe minder kontak tussen die mens en die natuur. Een van die aspekte wat die meeste onder die tegniese vooruitgang ly en ongemerk verdwyn, is die sterre.
In die gloed van ’n  groot stad se duisende ligte het die flou lig van ’n ster of planeet nie ’n kans om gesien te word nie – laat staan nog die subtiele prag van die melkweg of die kleure van die sterre.
In die vroeë kulture het die sterrehemel ’n  oorweldigende rol in die geestelike lewe van mense gespeel. Dit was die agtergrond waarteen die donker nagure, met die gepaardgaande gevare en vrese, afgespeel het.
Dit was die bron van mites, fantasieë, verklaringsteorieë en die begin van die wetenskap. Maar nog meer grondliggend: Die reëlmatige wisseling tussen dag en nag, tussen lig en donker, is die ritme waarmee alle lewensvorms ontwikkel het, en die basiese tydgewer vir die ingewikkelde biochemiese prosesse in alle lewende wesens. Ligreseptore in die oë, maar ook byvoorbeeld agter die knieë, hou die binnelewe van jou liggaam in pas met die son en die seisoene.
Die voordele van kunsmatige lig is voor-die-hand-liggend. Die nadele van die verlies van donkerte is verborge en subtiel: Steurings van die sirkadiese ritme, hormonale versteurings, depressie en gebrek aan energie om maar net enkeles te noem.
Werklike donkerte is ’n  vereiste vir goeie kwaliteit slaap. In die natuur het die oormaat aan kunsmatige lig ‘n nog groter uitwerking – na alles kan ’n mot nie sy gordyne toetrek as die buurman se sekuriteitslig in sy slaapkamer skyn nie.
Hoewel sekere spesies baat by nagligte, soos vlermuise en paddas wat die insekte wat deur ligte aangelok word eet, is die nadelige uitwerking verreweg in oormaat.
Vele spesies sterf uit weens die versteuring in hulle natuurlike biotipe.
Die ekonomiese uitwerking van ligbesoedeling, soos verlies aan produktiwiteit of versteuring van landbouproduksie, is nog grootliks onbekend en swak nagevors, maar alleen die energievermorsing wat deur oneffektiewe beligting veroorsaak word, beloop wêreldwyd miljarde rand.
Een van die sterkste dryfvere agter beligting in Suid-Afrika is sekuriteit. Die eerste refleks wanneer ‘n perseel beveilig moet word, is om sterk sekuriteitsligte te installeer. Daarby is dit ’n onbetwiste feit dat onoordeelkundige beligting die krimineel eerder bevoordeel as afskrik.
‘n Groot verlies is egter ook gewoon die skoonheid van die naghemel en die gevoel van eenheid met die natuur.
Die Vredefort Koepel bied aan die besoeker uit die stad vele natuurervarings, en onder andere is een van die besonderse aantrekkings van ons gebied die donker naghemel en die helder sterre.
Waar sterrewagte in Johannesburg, Pretoria en in ander stede se duur teleskope in onbruik verval, kon byvoorbeeld die Noordwes Universiteit nog ’n  sterrewag op sy plaas Nooitgedacht in die Koepel onderhou.
Metings oor die afgelope jare wys egter ‘n dramatiese toename in die die naggloed in ons gebied. Die duidelik sigbare toename in beligting in en om Parys, maar ook in die landelike omgewing, is die verklaring hiervoor.
Daarby is dit geensins nodig om die voordele van beligting te verbeur nie. Met oordeelkundige installasies, deur die ligte goed te rig, van doelmatige reflektore en skerms te voorsien, of deur bewegingsensitiewe skakelaars te installeer, kan beligting sy doel dien sonder om te besoedel.
‘n Maklike toets vir oneffektiewe ligte: Staan buite die gebied wat jy wil belig. Sien jy die lig? Indien wel, dan mors jy energie om die berg, jou buurman se slaapkamer, of die man in die maan te belig. Enige lig wat boontoe skyn, is vermorste lig en ’n  bydraer tot ligbesoedeling. Die beste voorkoming van ligbesoedeling is egter om ligte wat nie nodig is nie, af te skakel of glad nie te installeer nie.
Kom ons hou die Koepel se naghemel donker, en ontdek weer die wonder van die helder sterre bo ons!
Op Saterdagaand 6 Augustus om 19:00 bied die astronoom Frik le Roux ’n  praatjie oor die sterre by Deelfontein se sterrewag aan, en wys aansluitend hiertoe interessanthede deur sy 6-duim Newton-teleskoop. Deelnemers aan die uitstappie moet asseblief warm aantrek! Warm sop sal bedien word. Toegang kos R100. Laat weet vooraf as jy wil kom saamkuier by gerhard@deelfontein.co.za of 083 280 9784. Meer besonderhede en padaanwysings is op www.deelfontein.co.za beskikbaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button