NewsNews

Vanaf die regstafel: Los tonge op sosiale media kan gedagvaar word

•Wat van Vryheid van Spraak? •Besighede ly skade Sosiale Mediareg is sekerlik een van die nuutste ontwikkelings in die reg en handel onder meer met die inhoud wat deur gebruikers gegenereer word. Die belangrikste beginsel om te onthou wanneer jy sosiale media gebruik: Die oomblik wat ‘n persoon inligting publiseer (dit sluit in kommentaar op “Tweets, “Retweets” en selfs die aanhou, dalk beter bekend as “hosting,” van kommentaar op ‘n persoon se Facebook-blad) is die persoon onderhewig aan dieselfde regsreëls as die tradisionele media soos koerante of die radio. Dit beteken jy word gesien as ‘n uitgewer (“publisher”) en sodra die kommentaar ‘n derde persoon bereik, word dit regtens geag gepubliseer te wees.

•Wat van Vryheid van Spraak?
•Besighede ly skade
Sosiale Mediareg is sekerlik een van die nuutste ontwikkelings in die reg en handel onder meer met die inhoud wat deur gebruikers gegenereer word.
Die belangrikste beginsel om te onthou wanneer jy sosiale media gebruik: Die oomblik wat ‘n persoon inligting publiseer (dit sluit in kommentaar op “Tweets, “Retweets” en selfs die aanhou, dalk beter bekend as “hosting,” van kommentaar op ‘n persoon se Facebook-blad) is die persoon onderhewig aan dieselfde regsreëls as die tradisionele media soos koerante of die radio. Dit beteken jy word gesien as ‘n uitgewer (“publisher”) en sodra die kommentaar ‘n derde persoon bereik, word dit regtens geag gepubliseer te wees.
Die vraag wat voortvloei uit bogenoemde is: Wat van die reg van Vryheid van Spraak?
Die beginsel hier is: Hoewel Vryheid van Spraak ‘n grondwetlike reg is, is hierdie reg nie onbeperk nie – indien jou woorde inbreuk maak op die reg (bv. reputasie) van ‘n ander, kopiereg aantas of neerkom op haatspraak, dan word jou regte beperk.

Emma Sadleir van die Regsfirma Webber Wentzel gebruik ‘n maklike voorbeeld waarmee mense kan toets of hulle dalk besig is om oor die lyn te beweeg: Indien jy nie bereid is om jou kommentaar op ‘n groot bord by ‘n area met hoë verkeer te plaas nie, moet dit eerder nie op sosiale media aanbring nie.

Talle Potchefstromers skryf op Hello Pietie oor swak diens wat hulle van besighede ontvang. Ek sou mense aanraai om versigtig te wees daarmee. Dit is so dat baie besighede in ‘n goeie gees daarop reageer en dit hou dalk eienaars op hul tone, maar daar kan ook skade intree waar iemand aangespreek sal kan word vir skadevergoeding. Mense moet bedag wees dat indien hulle hul saak moet verdedig, sal hulle bewyse moet gee van hulle aantygings – waarvan die oorwig van waarskynlikhede soms baie moeilik kan wees om te bewys.

Op die heel minste, moet die kommentaar die absolute waarheid wees. Die belange van partye sal teen mekaar opgeweeg word, tesame met ‘n verskeidenheid ander regsvrae. In Isparta v Richter 2013 6 SA 529 (GP) het die hof die eerste keer ‘n eis vir eerkrenking op sosiale media toegestaan. Howe kan interdikte en beskermingsbevele toestaan teen oortreders. Tronkstraf kan selfs opgelê word in gevalle wat neerkom op crimen injuria (aantas van ‘n persoon se waardigheid) of strafregtelike laster.
*André de Villiers is ‘n Praktiserende Prokureur by André de Villiers Prokureurs en praktiseer in sake wat families en besighede raak

Related Articles

Back to top button