NewsNews

OVK belowe hy gaan foute regstel

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het beloof hy gaan die foutiewe herregistrasie van sekere Potchefstroomse inwoners by stemstasies in Ventersdorp en Ikageng, regstel. Tientalle inwoners het die afgelope week briewe van die OVK gekry waarin staan hulle is ge-herregistreer by onder meer ‘n stemstasie in Ventersdorp. Dié kiesers kan wel appèl aanteken, maar dis ‘n proses waarvoor daar waarskynlik nie tyd gaan wees voor die verkiesing op 3 Augustus nie.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het beloof hy gaan die foutiewe herregistrasie van sekere Potchefstroomse inwoners by stemstasies in Ventersdorp en Ikageng, regstel.
Tientalle inwoners het die afgelope week briewe van die OVK gekry waarin staan hulle is ge-herregistreer by onder meer ‘n stemstasie in Ventersdorp.
Dié kiesers kan wel appèl aanteken, maar dis ‘n proses waarvoor daar waarskynlik nie tyd gaan wees voor die verkiesing op 3 Augustus nie.
Een van die Potchefstromers wat nou in Ventersdorp moet gaan stem, vertel die OVK het haar in Januarie by haar huis in Miederpark waar sy al 30 jaar woon, kom registreer.
Daarna het Yvonne, wat versoek het haar van moenie gepubliseer word nie, twee keer bevestig haar adres is reg aangedui in die wyk waar sy by ’n kerk naby haar huis moet stem.
Volgens Chris Hattingh, DA-parlementslid, het die DA die briewe bestudeer en ’n patroon gesien deur wyknommers en stemstasies te vergelyk.
“Dit lyk of daar met die rekenaarstelsel ’n fout met die stemdistriknommers ingesluip het.
Dit het veroorsaak dat mense in verskeie wyke in Potchefstroom se stemstasies nou in Ventersdorp of Ikageng is, ondanks die feit dat hulle in die regte wyke geregistreer, hul adresse gekontroleer het en al jare daar stem. Hoe gaan die OVK dié foute nou ongedaan maak?”
Die Herald se vrae aan die OVK oor hoe dit reggestel gaan word, is teen druktyd nie beantwoord nie.
Hattingh het egter gesê Mosotho Moepya, hoofkiesbeampte, het hom gebel nadat Hattingh hom per brief oor die probleem ingelig het.
“Hy het gesê die OVK sal die probleem regstel en voor die naweek wyd aan mense (in Potchefstroom) kommunikeer dat die briewe teruggetrek gaan word. Ek vermoed mense sal nou steeds kan gaan stem by die stasies waar hulle laaste self geregistreer het.”
Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in die Tlokwe-munisipaliteit, het gesê die OVK het soortgelyke beloftes aan hom gemaak.
Moolman sê die adresprobleme ontmoedig kiesers om te gaan stem omdat hulle moeite moet doen om dit reg te stel. “Dis onregverdig en onaanvaarbaar.”
Wyke in Potchefstroom en Ventersdorp is heringedeel nadat die Munisipale Afbakeningsraad verlede jaar aangekondig het die Tlokwe-munisipaliteit in Potchefstroom en die Ventersdorp-munisipaliteit smelt nou saam.
Die konstitusionele hof het intussen vroeër vanjaar beslis die OVK moet sover moontlik adresse by kiesers op die rol vir Tlokwe en Ventersdorp kry vóór die verkiesing op 3 Augustus.
Die OVK sê hulle het reeds 18 401 (86%) adresse gekry van die 21 515 wat nog uitstaande was in Tlokwe/Ventersdorp. 3114 adresse is steeds uitstaande, maar daar sal sover moontlik probeer word om dié adresse te kry wanneer kiesers gaan stem.
Volgens Moolman het hulle eers verlede Dinsdag die rol met die adresse gekry. “Ons het nie meer genoeg tyd om te verifieer of mense werklik by die adresse in bepaalde wyke woon nie.”
Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, kan die geldigheid van die verkiesing in Tlokwe/Ventersdorp moontlik weer in die hof draai weens die kwessie oor kiesers se adresse.
Hy het benadruk die voorsiening van adresse in ’n munisipale verkiesing is noodsaaklik om dit geldig en regverdig te maak omdat mense juis moet stem in die wyk waar hulle woon.
Die geldigheid van ‘n verkiesing kan daarna betwis word indien hierdie mense se adresse nie korrek op die kiesersrol aangedui is nie.

Related Articles

Back to top button