NewsNews

Kinders vasgevang in mensehandel

Potchefstromers het hulle harte oopgemaak toe ’n groep van die 57 kinders en jongmense wat bestem was vir mensehandel tydelik in die stad gehuisves was. Die kinders en jongmense was agter in die bak van ’n toe vragmotor toe die polisie Sondag die vragmotor naby Rustenburg voorgekeer het. Voor in die trok was drie mans van Malawië en al die kinders en jongmense, tussen 11 en 21 jaar oud, kom ook van Malawië af. Die drie mans kon nie ’n bevredigende antwoord gee waarom die kinders en jong mense, 18 meisies en 39 seuns, agter in die trok is nie. Die polisie het egter bevestig dat die kinders slagoffers van mensehandel is.

Potchefstromers het hulle harte oopgemaak toe ’n groep van die 57 kinders en jongmense wat bestem was vir mensehandel tydelik in die stad gehuisves was.

Die kinders en jongmense was agter in die bak van ’n toe vragmotor toe die polisie Sondag die vragmotor naby Rustenburg voorgekeer het.
Voor in die trok was drie mans van Malawië en al die kinders en jongmense, tussen 11 en 21 jaar oud, kom ook van Malawië af.
Die drie mans kon nie ’n bevredigende antwoord gee waarom die kinders en jong mense, 18 meisies en 39 seuns, agter in die trok is nie. Die polisie het egter bevestig dat die kinders slagoffers van mensehandel is.

Die Malawiese hoë kommissariaat en owerhede is betrek en ondersoek word ook gedoen hoe die trok oor die grens gekom het. Die drie verdagtes het Dinsdag oggend in die Rustenburg magistraatshof verskyn op 57 aanklagtes van mensehandel. Die saak is uitgestel tot 13 September.
Van die kinders is vir versorging na Potchefstroom na ’n plek van veiligheid gebring, maar is intussen weer om veiligheidsredes verskuif.
Skenkings is onder meer deur middel van die sosiale media gevra vir die groep wat in Potchefstroom gehuisves was en Potchefstromers het weer gewys hoe oop hul harte is.
’n Vertrek by die Abraham Kriel Kinderhuis is in ’n japtrap vol skenkings gepak. Volgens ’n verteenwoordiger van STOP (Stop Trafficking of People) is die handel in mense meer algemeen as wat mense besef.

“Ons het al ander sake in Potchefstroom gehad, asook in Klerksdorp. Veral kinders word verkoop vir hulle organe, slawerny asook as seksslawe in ’n bordeel,” het die verteenwoordiger gesê.

Volgens haar word mense genader onder die dekmantel dat daar vir hulle ’n geleentheid is vir werk, sportbeurse of beurse vir kinders by skole. Daarna word die kinders vervoer na die plekke waar hulle misbruik word.
“Meeste van die slagoffers kom uit baie kwesbare situasies,” sê sy.
STOP vra dat enige verdagte gedrag wat lyk of dit mensehandel kan wees aan hulle gerapporteer word. Die organisasie is ook bereid om groepe te kom toespreek. Hulle kontakbesonderhede is 0800 555 999 of e-pos na stoptraffickingpotch@gmail.com

Related Articles

Back to top button